God se Woord in vandag se woorde

‘n Heel nuwe lewe


Ek kyk ’n aangrypende video van Welcome Witbooi. Sy storie is nie vir sensitiewe kykers of lesers bedoel nie. Die kant van die lewe waar hy was, is vir baie duister en seker ook goed so. 

Hy was deel van die nommersbende in die tronk. Hy was hoog op in die organisasie, nogal ’n generaal. Maar om daarbo uit te kom, was nie so maklik nie.  

Sy opdrag was om ’n tronkbewaarder te steek, dood te steek. Hy het vir ag dae opleiding gekry. Hy stap toe na ’n tronkbewaarder toe wat eintlik vir hom goed was en ’n paar keer vir hom suiker gegee het.  

Agter hom was daar twee medebendelede wat as Draad en Glas bekendgestaan het. Hulle rol was om, as hy nie oorgaan tot die daad nie, hom dood te maak óf te beskerm as iets verkeerd loop. 

Op die ou end is daar ag sterre op sy skouers getatoeëer. ‘n Ster vir elke mens wat hy doodgemaak het. Vir sewe jaar was hy die generaal van die nommersbende in die tronk.  

Op ’n dag het hy besluit om uit te tree, maar dit was nie so maklik nie. Hy moes met die hoof van die tronk reël om vier ander generaals van vier ander tronke na die tronk te laat kom. Hiervoor was die handtekening van die minister van korrektiewe dienste nodig. 

Twee generaals staan voor hom om te luister na sy betoog. Twee generaals staan agter en vervul weer die rol van Draad en Glas. Hulle het beraadslaag en een van die generaals vertel toe dat Welcome eendag by sy sel ingekom het en gesien het dat hy sukkel om te lees.  

Welcome het nie vir hom die brief gelees nie, maar eerder in die volgende paar maande vir hom geleer het om te lees. Dit was as gevolg van hierdie een deed of kindness wat hulle hom toegelaat het om die nommersbende te verlaat, sonder dat hy sy lewe verloor het.  

Daarna het hy begin studeer en ander geleer. Hy het met drie gevangenes begin en later ’n hele klaskamer volgemaak. Op goeie gedrag is hy vrygelaat. Hy moes sy pad oopveg om weer in die samelewing in te pas, sonder alles wat die bendes buite die tronk op skinkborde vir hom aangedra het.  

Hy het BrightSpark Foundation SA op die been gebring wat nou baie jongmense help om uit die kloue van die bendes te kom. Welcome het nie net self in ’n heel nuwe lewe geklim nie, maar hy help daagliks jongmense op die pad na ’n nuwe lewe.  

So het Jesus vir ons ’n nuwe lewe bewerkstellig. Die ou dae in die tronk van sonde is verby. Ons kan nou vry lewe met ’n vooruitsigting van ’n ewige lewe waar dit heeltyd speeltyd is.  

24Julle moet mooi luister: die oorspronklike boodskap wat julle gehoor het, moet ’n groot invloed op julle uitoefen. As daardie boodskap aan julle lewe rigting gee, is dit eintlik die Seun en die Vader wat julle beheer en rig. 25Wat hou hierdie boodskap dan nou in? Dít: Jesus het julle ’n nuwe lewe saam met God kom aanbied. 

Laat ons vashou aan die Woord van God. Laat hierdie nuwe lewe wat Jesus vir ons gebring het sigbaar wees in ons alledaagse lewe. 

Teks
1 Johannes 2:24-29 

Om oor na te dink
Glo jy in die nuwe lewe wat Jesus bring?
Het jy die nuwe lewe?
Leef jy die nuwe lewe? 

Gebed
Jesus, dankie vir die nuwe lewe in God die Vader. Help my om elke dag die nuwe lewe te leef en nooit terug te gaan op my ou paaie nie. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek