’n Heilige spasie
’n Verhouding is die vertrek of die spasie wat dit vir mense moontlik maak om hulleself te wees. Dis ’n heilige plek waar mense die vrymoedigheid het om uit te reik na mekaar, mekaar te help en selfs reg te help.
As die heilige spasie nie mense omring en saambring nie, het hulle nie inspraak in mekaar se lewe nie. Ek kan nie my seun reghelp as hy êrens oor die grense geval het nie. Hy sal dit dan net sien as ’n afjak, sy rug draai en die vallei tussen ons net nog dieper grawe.
As daar wel ’n verhouding of ’n heilige spasie is, gee ons mekaar die reg om mekaar reg te help in liefde. Dan kan ons by mekaar leer. Dan kan elkeen groei en leer om net nog ’n groter verskil te maak. Dis tog hoekom ons hier op aarde is.
Onthou, heilig beteken afgesonder. In hierdie verhouding weet ons dat ons afgesonder is, set apart vir mekaar in daardie oomblik en tyd. En wanneer ons op mekaar gefokus is, sien ons om na mekaar, ons gee om en ons help mekaar teen die opdraandes uit.
Let jy op dat ek die heeltyd praat van ons en mekaar? In ’n heilige spasie, in ’n verhouding is daar twee persone wat mekaar dien. Nie een wat die ander een oorheers nie. Dan is dit tegnies nie ’n verhouding nie.
Die heilige spasie geld natuurlik vir alle verhoudings. Verhoudings met jou familie, vriende en geliefdes. Selfs vir die verhoudings met jou kollegas, werkgewer en mense wat vir jou werk.
As daar nie ’n heilige spasie is, ’n tweerigtingverkeer-kanaal, ’n verhouding tussen julle bestaan nie, gaan die ander een dit elke keer as ’n uittrapparade ervaar en een of ander tyd gaan hulle net uitstap.
So ’n heilige spasie bestaan nie net uit die wete dat daar ’n verhouding is nie, maar kry eintlik eers bestaansreg as daar aktiwiteit is. Wanneer ons in die heilige spasie vir mekaar lewe, iets vir mekaar doen, beteken dit werklik eers iets.
So werk dit ook met God. Ons is afgesonder vir God, daar is ’n heilige spasie waar ons afgesonder is vir God. Dis hier waar ons onsself kan wees en waar God met ons kan woel.
Eintlik gee ons vir God die reg om in hierdie spasie te sê wat op Sy hart is, sodat Hy ons kan vorm. Ja en dan het ons ook die reg om vir God te vra om ons te help met die uitdagings in die pad.
Dis in hierdie spasie waar ons besef ons kan nie stilsit nie. Ons wil en kan en moet ook reageer deur in aksie te kom en te doen.
24Julle sien dus hoe belangrik dit is om te doen wat God vra. As dit om die regte verhouding met Hom gaan, is dit nie genoeg om slegs te weet dat God daar is en Hom te aanvaar nie.
Mag dit waar word in ons almal se heilige spasies.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Hoe lyk jou verhouding met God?
Is dit heilig?
Mobiliseer dit jou tot dade?
Gebed
Vader, ek begeer ’n intieme verhouding met U. Ek gee my oor aan ’n heilige, afgesonderde spasie, net vir U. Laat dit my aanmoedig en aanspoor om in die wêreld ’n verskil vir U te gaan leef. In Jesus se Naam. Amen.