‘n Jaloerse geliefde
Wonder jy ook wat jaloesie nou regtig beteken? Ek kry ’n definisie op die Wikipedia-platform:
Jaloesie is ‘n verterende afguns, ‘n agterdogtige wraaksugtigheid en besitlikheid wat ons ervaar wanneer ons dink ons verhouding, ons status in die lewe, ons vriendskappe of ons besittings word bedreig. Dit is ook wat ons voel wanneer ons dink iemand gaan beter as ons vaar in een of ander wedywering.
Die bekende psigoanalis, Sigmund Freud, het gesê dat dit menslik is om jaloesie te beleef wanneer ʼn belangrike verhouding deur ʼn derde party bedreig word. Hy meen dat dit eerder abnormaal is om onder sulke omstandighede nie jaloesie te beleef nie.
Wanneer vrouens sien dat daar ’n ander party te naby aan hul mans kom, kom die naels uit. As dit nie uitkom nie, moet ’n mens begin vrae vra. Eintlik is dit ’n kompliment vir die man en ’n teken van die vrou se liefde, nè?
Jaloesie is in die opsig nie negatief en soos die definisie sê: verterend afgunstig, agterdogtige wraaksugtigheid nie. Dis amper soos ’n verdedigingsmeganisme vir die verhouding en wanneer daar gevaar dreig, word dit deur jaloesie beskerm.
Op ’n manier is die Heilige Gees ook so. Die Heilige Gees se naels kom by woord van spreke ook uit as die verhouding tussen ons en God in gevaar kom. Wanneer iets meer aandag van ons trek en ons wegtrek van God af, spring die verdedigingsmeganisme op en begin Hy verdedig wat Syne is.
Die Passion-vertaling breek dit so mooi oop: 5Does the Scripture mean nothing to you that says, “The Spirit that God breathed into our hearts is a jealous Lover who intensely desires to have more and more of us?”
Die Heilige Gees is jaloers op ons tyd. Hy wil nie hê ons moet Hom daar in die hoekie van ons lewe neersit en net so nou en dan verby Hom loop en ons kop knik nie. Nee, Hy wil ’n groot porsie van ons tyd hê.
Ja, ons ontvang die Heilige Gees wanneer ons Jesus as ons Saligmaker aangeneem het, dis dan wat God Sy Gees in ons inblaas. Die vraag is nou net na hoeveel kamers van jou huis jy Hom uitnooi?
Hou jy eers die braaikamer se deur vir Hom toe? Is daar ’n “geen ingang”-bordjie by jou TV-kamer? Is daar net sekere kamers van jou lewe waar jy Hom toelaat en sommige nie?
Jy sien, dis hier waar die jaloesie inkom. Die Heilige Gees is jaloers op die toe deure, want Hy weet dat jou tyd daar gesteel word. Die verdedigingsmeganisme skop in en begin die verhouding verdedig en beskerm.
Die Heilige Gees, sê die Woord, is ’n jaloerse lover en soek meer en meer van jou. Meer van jou tyd, meer van jou liefde, meer van jou doen en late. Vra juis vir Hom om jou te help om oor te gee. Hy weet van.
Teks
Jakobus 4:1-6
Om oor na te dink
Waar moet jy nog kamers oopmaak vir die Heilige Gees?
Wat moet jy anders doen, sodat die Heilige Gees nie jaloers op jul verhouding raak nie?
Met wie moet jy die een deel?
Gebed
Heilige Gees, daar is nog ’n paar kamers waarvan ek die deure moet oopmaak. Ek sukkel en ek is bang en ja, ook skaam. In Jesus se Naam. Amen.