God se Woord in vandag se woorde

’n Lewe wat God wys


Ons kom uit die kerk gestap. Dit was ’n boodskap oor liefde en doen en omgee. Die kinders merk op dat die prediker dit in sy lewe uitstraal. As hy vra hoe dit gaan, doen hy dit met deernis en staan altyd reg om te help, waar hy ookal kan. 

Dis ’n mooi getuienis. Hulle sal seker eendag op sy grafskrif skryf: He practised what he preached. 

Die ouens vir wie Petrus skryf het ook ’n mooi getuienis: 14Ek het vir julle my hand op papier gesit, kinders, omdat julle die Vader persoonlik ken; en pa’s, omdat julle Hom ken wat die oorsprong van alles is. Jongmense, ek het vir julle geskryf omdat julle innerlik so sterk is. Julle seëvier altyd in die stryd teen Satan. Boonop straal God se boodskap uit alles wat julle doen. 

Die getuienis van hulle lewe straal sommer baie dinge uit. In hierdie een vers sien ons dat hulle God persoonlik ken. Hulle is innerlik sterk, sit die bose op sy plek en hulle straal God se boodskap uit deur dit wat hulle doen.  

Dit is slegs binne ’n persoonlike verhouding met ons Vader, Jesus en die Heilige Gees wat ons ons lewens in lyn kan kry met Hul doel vir ons hier op aarde. Hier raak ons roeping glashelder.  

Dis juis binne die verhouding wat ons onsself leer ken. Ons weet waartoe ons in staat is. Ons leer van en sien die plekke raak waar ons moet werk en waar ons moet afkap wat nie pas by God se plan vir ons lewe nie.  

Binne dié verhouding raak ons sterker en glip en gly ons minder. Sonder kennis ploeter ’n mens rond. Met die eerste brander word ons voete onder ons uitgeslaan en sukkel ons om kop bo water te hou.  

Spiere kom nie vanself nie. Dit verg baie oefening en reg eet. My seun sê altyd dat die driekamp en ysterman eintlik uit vier dissiplines bestaan, naamlik, swem, fietsry, draf én voeding. Jy kan hoe hard oefen, maar as jy nie reg eet nie, gaan jou petrol êrens langs die pad opraak en dan gaan jy staan. 

Daarom is dit so belangrik dat ons die Woord van God daagliks “eet.” Dis hier waar ons ons innerlike versterk om sterk te staan teen die aanvalle van die bose. Ons leer sy taktiek ken en weet wat om te doen, sodat ons nie van die pad gelok sal word nie. 

Ons moet regtig moeite doen met ons identiteit as kinders van God. Onthou, ons het baie werk nodig om herstel te word. Die sondeval het ons almal erg geskend. Ons kan nie en moenie tevrede wees met die staat waarin dit ons gelaat het nie. 

Laat ons spesifiek gaan soek waar ons nog nie mooi inpas by die prentjie wat God van ons het nie en laat ons dan iets daaraan doen. Dis ’n lewenslange proses en sal eers voltooi wees as ons Jesus met ons eie oë sien.  

Laat ander mense langs die pad ook na ons kyk en sê dat ons in ’n mooi verhouding met ons Vader staan, omdat ons so sterk staan teen die aanvalle van die duiwel. Mag ons dade God se boodskap vertel en mag ander dan ook na so ’n verhouding met God smag. 

Teks
1 Johannes 2:10-14

Om oor na te dink
Ken jy vir God persoonlik?
Hoe sterk staan jy teen die aanvalle van die Bose?
Sien ander vir God in jou manier van doen raak? 

Gebed
Vader, ek kort nog baie timmerwerk in my lewe. Ek wil so graag U Woord deur my dade uitsaai aan die wêreld. Sal U my daarmee help? Asseblief. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek