God se Woord in vandag se woorde

’n Paal bo water


Baie keer vra mense of hulle my as referent op hulle CV kan plaas. Vir sommige doen ek dit met graagte, vir ander met so ’n effense huiwering, want ’n mens moet mos eerlik wees as iemand jou bel en vra om ’n opsomming van iemand te gee.

Wanneer iemand ’n navraag het oor iemand wat nie voor in die koor was nie, is my woorde min en die entoesiasme ontbreek, maar as dit iemand is wat sy of haar kant gebring het, kan ek nie ophou praat nie. Die persoon aan die anderkant kan seker nie glo dat ek so sing nie, maar as ’n persoon dit verdien, wil ek nie in sy of haar pad staan om die leer te klim nie.

Ek vermoed as Tigikus vir Paulus sou vra of hy sy referent sou wees, Paulus nie twee keer sou dink nie, want kyk wat sê Paulus van hom sonder dat hy eers gevra is: 7Ek stuur my goeie vriend Tigikus terug na julle toe. Hy sal vir julle alles van my kom vertel. Ek hou regtig baie van hom. Hy werk hard vir die Here. ’n Mens kan op hom staatmaak. Ek weet, want ek werk saam met hom.

Net so tussen hakies, Tigikus het ook hard gewerk om die verlossingsboodskap by gewone mense uit te kry. Daar word vermoed dat hy een van die sewentig was wat Jesus uitgestuur het. Tigikus sou geen steen onaangeraak laat nie. God se nuus moes uit en daarin het hy al sy energie gesit. Paulus noem hom sy broer wat saam met hulle in die juk trek.

In ’n paar sinne teken Paulus ’n groot prentjie van Tigkus. Tigikus is ’n vriend, iemand wat enige tyd enige iets vir enige iemand sal doen. Vir seker is hy nie op homself ingestel nie, maar op ander.

Almal hou van Tigikus, want dis hy wat jou goed laat voel as jy by hom is. Hy stel altyd in jou belang. Hy gee werklik om en wil net altyd weet waar hy kan help. Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Nee, ek vermoed hy het nie altyd die middele gehad om die nood sommerso te verlig nie, maar hy was nooit sonder planne om dit te laat werk nie.

Uit ervaring weet Paulus dat jy enige tyd van die nag of dag op Tigikus se nommer kan druk. As die druk so druk dat jou oë traan, kan jy maar op Tigikus druk. Mense se lewens was anders, omdat Tigikus op die aarde rondgeloop het.

Dis wat nou van ons verwag word: Ons moet langs Tigikus gaan staan en kyk of ons ook soos hy is. As ons in Paulus se tyd gelewe het, sou hy as referent vir ons opgetree het en dieselfde dinge van ons kon sê?

Erens in my is daar effe twyfel.

Tog help dit nie nou om in sak en as te gaan sit nie. Ons almal het die potensiaal om soos Tigikus ’n groot verskil in ander se lewens te maak. Ons moet dit eerstens besef, ’n pen inslaan en regtig moeite doen met die mense met wie ons elke dag skouers skuur.

Ja, ons gaan nog baie foute maak, maar kom ons probeer met alles in ons om eers die ander persoon in die oog te hou. Kom ons wys hulle met die manier waarop ons lewe hoe Jesus lyk. Kom ons word die mense vir wie ander werklik lief is en op wie hulle altyd kan vertrou. Kom ons word die paal bo die water waaraan mense kan vashou, sodat hulle koppe bo die water kan bly. Kom ons word die mense vir wie almal graag ’n referent sal wees.

Teks
Kolossense 4:7-18

Om oor na te dink
Wat sê die mense van jou?
Waar skiet jy nog effe tekort?
Vir wie kan jy die paal wees?

Gebed
Vader, ek besef dat ek soms, nee, meer as soms, nie ’n paal bo die water is waaraan mense kan vashou nie. Soms is ek meer onder die water as bo. Tog weet ek dat U my roep om ’n verskil te maak in ander se lewens. Ek wil graag só leef dat U ook op my kan staatmaak. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek