God se Woord in vandag se woorde

ʼn Skorriemorrie voor God


2 Samuel 6:20-220Toe Dawid ook huis toe gaan om sy eie familie voorspoed toe te wens, het Mikal, Saul se dogter, uitgekom en ewe sarkasties gesê: “Ag, en het die koning van Israel nie vandag vir hom naam gemaak nie! Die meisies wat vir sy amptenare werk, het alles gesien! Hy was net soos ’n skorriemorrie wat sy klere voor meisies uittrek!” Dawid het vir haar gesê: “Hoor hier, ek het vir die Here gedans omdat Hy my bo jou pa gekies het en bo enigiemand in jou pa se familie. Ek het gedans omdat die Here my die leier van sy volk, van Israel, gemaak het. Maar weet jy, ek sal nóg laer gaan as wat ek vandag gegaan het: ek sal afgaan tot by dié meisies van wie jy gepraat het. Húlle sal van my hou.”

Kyk net hierdie interessante stukkie wat ek in die Bybel raaklees en die kreatiewe vertaling daarvan in Die Boodskap. Dadelik wonder ek wat hier aangaan.

Saul het sy dogter aan Dawid belowe toe hy vir Goliat platgetrek het. Saul gee egter sy oudste dogter vir iemand anders. Sy ander dogter, Mikal, was tot haar ore toe verlief op Dawid en Saul gee haar toe vir hom. Dis die einste Mikal wat nou hier met dun lippies erg sarkasties is met Dawid.

Dawid het die ark van die Here na die stad laat kom en hieroor was hy oor die maan. Hy het nie sy gewone koninklike klere aangehad nie, maar ʼn linneskouerkleed soos dié wat priesters gedra het. Hieroor was Mikal nie dik van die lag nie. Dit was nie “koninklik genoeg” in haar oë nie.

Dit pas nie in haar idee van mag, status en waardigheid nie. Sy hak sommer af en noem hom ʼn skorriemorrie.

Maar Dawid sê vir haar dat hy vir die Here gedans het. Hy was nie besig om mense te beïndruk nie; hy was besig om God te eer. En dan gaan hy nog verder deur te sê dat hy bereid is om selfs nog laer te daal deur voor die meisies te gaan dans op wie sy neerkyk.

Hierdie klink amper soos ʼn moddergooiery in ʼn gewone huwelik, met die man wat so effe moedswillig is. Maar Dawid verstaan iets van intimiteit met God. Ware intimiteit vra soms dat ek my trots, beeld en status neerlê. Voor God hoef ek nie groot te lyk nie.

Luister mooi: nabyheid aan God maak jou vry van mense se opinies. Wanneer jou hart vol is van God, kan jy dans al verstaan ander dit nie.

Geniet die dans, skorriemorrie …

Gebed
Here, ek dans voor U vir al U weldade in my lewe. U is vir my goed en sonder U krag en wysheid loop ek in mure vas, maar met U in my wil ek net sing en dans …

Vrae
Is ek meer bekommerd oor wat mense van my dink as oor wat God van my dink?
Is daar trots of status waaraan ek nog vasklou wat my keer om God met my hele hart te dien?
Aanbid ek God uit liefde, of probeer ek mense beïndruk?

Doen dit nou
Vat vandag doelbewus tyd om God te aanbid, al is dit net vir vyf minute in jou motor of by die huis. Sing saam met ’n loflied of dank Hom hardop vir Sy goedheid.
Doen vandag iets vir God sonder dat iemand anders daarvan hoef te weet of jou daarvoor hoef raak te sien.
Wanneer jy later vandag bekommerd raak oor mense se opinies, herinner jouself: “Ek leef vir God se glimlag, nie vir mense s’n nie.”

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek