‘n Stokkie in die wiel?
Toe ek baie klein was, het my pa op sy lessenaar ’n vierkantige raamwerk gehad waaraan daar ’n ry ysterballetjies aan toutjies gehang het. As jy die een balletjie aan die een kant optel en dan weer laat val, skiet die een aan die ander kant amper net so hoog op. Ek kon ure daarmee speel.
Dit is natuurlik ’n goeie manier om Newton se derde wet te beskryf: Vir elke aksie, is daar ‘n gelyke en teenoorgestelde reaksie. Vir elke aksie is daar ’n reaksie. In die volgende vers sien ons elke keer ’n reaksie op ’n aksie:
8Wat ek nou vir jou gesê het, is die waarheid. Ek wil hê jy moet dit met groot oortuiging vir die gelowiges gaan oorvertel. Hulle moet mooi begryp wat God alles vir ons gedoen het. Dit sal hulle aanspoor om reg te leef. As hulle hierdie goeie nuus verstaan, sal hulle goeie dinge vir ander mense doen. Hulle sal ander begin dien en op die hande dra.
- Wanneer mense begryp wat God vir hulle gedoen het, die aksie; het mense die drang om reg te lewe, die reaksie.
- Wanneer die Waarheid mense oorrompel, die aksie; verskuif hulleself op die agtergrond en wil hulle goed doen vir ander, die reaksie.
- Wanneer ons regtig verstaan wat Jesus se kruisdood vir ons bewerkstellig het, die aksie; wil ons uit dankbaarheid ander dien en hulle op die hande dra, die reaksie.
Dit is soos Newton se wet, dis hoe dit werk. Ek kan nie die een balletjie optel en laat val en dan gebeur daar niks met die balletjie aan die ander kant nie. Daardie krag moet êrens heen oorgeplaas word. Daar moet ’n reaksie aan die ander kant wees.
Christene kan nie onaangeraak bly as Jesus se liefde oor hulle spoel nie. Die energie moet deur ons gaan en ook oorspoel. Daar moet ’n reaksie aan die ander kant wees. Dis hoe dit werk. Dis eintlik ook ’n wet.
En tog sien ek dit nie so werk nie. As dit so in al ons Christene se lewens gewerk het, sou die wêreld anders gelyk het. Om een of ander rede kry ons dit reg om die wet te breek. Die normale reaksie op God se aksie, is net niks of bitter min!
Ek vermoed dit is omdat ons alles hier binne-in ons hou. Maar dis nie gesond nie. Te veel van ’n goeie ding, is nie noodwendig goed nie. As jy liters en liters water drink, gaan jy siek word. Dis nie waarvoor water ontwerp is nie.
Net so, is die liefde van Jesus nie ontwerp om net hier binne ons gehou te word nie. Dit moet ’n reaksie hê waar ons ander mense begin dien en op die hande dra. Dit is die noodwendige reaksie van God, die Vader, Jesus en die Heilige Gees wat in ons lewe ingekom het.
Laat ons nie die stokkie in God se doen-goed-aan-ander wiel wees nie. Kom ons gaan soek daadwerklik en intensioneel na plekkies waar ons ’n reaksie op God se hope aksies kan wees. Laat ons goeie dinge aan ander doen. Laat ons ander dien en hulle op die hande dra.
Teks
Tit 3:8-11
Om oor na te dink
Wat is jou reaksie op God se aksie?
Is daar fout?
Hoe en waar kan jy doen?
Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek soms ’n stok in U wiel is en vir seker wil ek dit nie doen nie. Here, help my om orals waar ek gaan, die reaksie op U aksie uit te leef. Mag ek ander raaksien en hulle dien. In Jesus se Naam, amen.