’n Wit steenkoolsak
Daar word hierdie pragtige storie vertel van ’n kleinseun wat alles gedoen het soos sy oupa. So het hy gesien dat sy oupa elke oggend Bybel lees en hy begin toe self in die Woord te wandel.
Eendag daag hy by sy oupa op en sê: “Oupa, ek verstaan baie van die dinge wat ek lees in die Bybel glad nie en baie wat ek wel verstaan, onthou ek nie. Is dit dan die moeite werd om Bybel te lees?”
Getrou aan die oupa se aard gebruik hy ’n praktiese voorbeeld om sy kleinseun te help. Hy sê dat die seun ’n leë steenkoolsak moet vat, onder by die stroompie gaan water haal en dan vir hom bring.
Opgewonde hardloop die seun met die swart gevlekte sak na die stroompie, maak dit vol en begin dit terug te sleep. Maar toe hy daar aankom, is die sak leeg! “Aggenee!” sê die seun, “die sak is dan dolleeg!”
“Ek sien so,” sê die oupa. “Jy moet maar weer water by die stroom gaan haal!”
Die seun is weer af na die stroom. Met moeite het hy dit weer vol water gemaak en gesleep na die oupa toe, maar met dieselfde resultaat. Nie ’n enkele druppel water nie! Elke keer het die oupa die seun teruggestuur om weer te probeer.
Later was die seun so mismoedig en sê: “Nee wat, Oupa. Dit werk nie. Hier gebeur niks nie!”
Hierop reageer die oupa: “Kyk mooi na die sak. Wat sien jy aan die sak?”
Die seun kyk na die sak en besef ewe skielik: “Die sak is wit. Al die swart steenkoolstof het uitgewas!”
“Presies,” sê die oupa. “Al verstaan ons nie altyd wat ons lees in die Bybel nie, al onthou ons nie alles nie, gebeur daar iets met ons. Ons binneste verander en word as’t ware skoongewas en raak nuut.”
Ons wat kinders van God is, moet sorg dat ons al hoe nader aan die wil van God leef. Ons het eintlik elke ’n opdrag om meer en meer soos Jesus te word en al hoe meer in Sy genade te lewe.
18Leef net elke dag nog meer uit die liefdevolle goedheid wat ons Here en ons Verlosser, Jesus Christus, vir julle gee. En moet nooit ophou om meer en meer oor Hom te leer nie.
Hoe kan ons meer leer van Jesus? Natuurlik weet ons dat ons Hom leer ken in die Woord van God. Wanneer ons die stories oor Hom lees in die Evangelies, sien ons hoe Hy binne die wil van God hier op aarde geleef het.
Ek verstaan ook nie alles wat ek lees in die Woord van God nie. Soms is daar “Aha!”- oomblikke en soms is daar net vraagtekens. Maar as ek terugkyk oor die jare se sit met die Bybel, kan ek sien die Heilige Gees het binne my gewoel. Ek sit nog baie keer die pot mis, maar al hoe minder.
Laat ons al ons kragte inspan om meer en meer in die koelte van die genade en goedheid van Jesus te skuil. Laat ons keer op keer die sak vol water gaan maak, sodat ons al hoe nader aan Jesus lewe.
Teks
2 Petrus 3:14-16
Om oor na te dink
Hoeveel tyd bestee jy in God se Woord?
Hoeveel moeite maak jy met jou verhouding met God?
Waar moet jy nog meer tyd in jou verhouding met Jesus sit?
Gebed
Jesus, ek wil meer en meer soos U wees. Gee my krag om meer oor U te leer en meer te groei in ons verhouding. Amen.