God se Woord in vandag se woorde

Nie tevergeefs


Orals waar Paulus en sy maters kuier, word mense se lewens verander. 1Julle weet tog self, broeders, dat ons ingang by julle nie tevergeefs was nie. (1953-vertaling) Mense se lewens is handomkeer verander. Mense wat verlore was, het die lig raakgesien en is nou op die regte pad.

Watter voorbeeld is dit nie vir ons nie. Ons moet ook so wees. Orals waar ons gaan, moet mense se lewens anders wees omdat ons deur hulle lewe ge-woerts het. Soos Rita:

Ons is tog so geneig om groot deurbrake te soek in wat en waar die Here ons gebruik. Dis nie die grootte wat belangrik is nie, dis of mens gehoorsaam is wanneer die Heilige Gees ’n begeerte in ons harte plaas.

Nee, nie ’n begeerte vir iets vir myself nie, maar iets wat iemand anders dalk van Sy Liefde kan vertel. Hier is so ’n storie, of beter ’n belydenis van waar die begeerte wat die Heilige Gees in my geplaas het iets groots tot gevolg gehad het.

My dogter is betrokke by ’n man en sy seun wat albei met dwelms deurmekaar is. Beide pa en seun het dikwels in ons huis gekom en ek het baie lief geword vir hulle. Meimaand verlede jaar was dit die seun se verjaarsdag en ek wou hom so graag ’n geskenkie gee, maar wat gee jy vir ’n jong seun van 15 jaar?

Die begeerte het toe in my hart gekom en ek het vir hom sy eie Bybel gekoop, iets wat hy glad nie geken of mee groot geword het nie.

Nou, ’n jaar later, is hy in rehabilitasie. My dogter het vir hom gaan kuier en raai wat sê hy vir haar? “I remembered to pack my Bible and I am reading it now.”

Hoe groot is ons God nie!

Ek is seker dis die eerste stap na gesond word en miskien kan hy sy pa ook help om by Jesus uit te kom. Kom ons hou op om klippe te gooi. Staan stil en luister eerder na waar God jou kan gebruik om ’n verskil te maak!

Soos ’n Paulus van ouds verander mense se lewens waar Rita gaan. Soos Paulus sê: 1My liewe broers en susters, julle weet self dat my besoek daar by julle goed afgeloop het. Baie mense het tot bekering gekom toe hulle die goeie nuus gehoor het. So het dit ook in Rita se lewe gegaan.

Selfs in die konstruksiebedryf is daar mense wat ’n verskil maak. Daar uit Windhoek vertel Sylvia:

Die gebou waarin ek werk is onder konstruksie seker nou al vir die afgelope ses maande – met die gevolg dat ek verskillende ompaaie moet loop vanaf die parkeerarea tot by die kantoor. 

Vanoggend moes ek weer tussen elektriese kabels deur. Toe ek nog so stap, sien ek seker so 40 konstruksiewerkers nader aan mekaar staan in ’n bondel. 

Ek dink toe die manne gaan seker nou opdragte van hulle supervisor vir die dag se werk kry. Groot was my verbasing toe die persoon in beheer vir een van die manne vra om vir hulle te bid.

Ek het skoon hoendervleis gekry, want dit sien mens nie in ons besige lewe nie, dat manne van alle kleure saam hande vat en hulle dag se werk so begin. 

Ek storm kantoor toe en is baie opgewonde om dit met my kollegas in die heerlike koel kantoor te deel. Baie kyk my net so aan, maar van hulle kry ook hoendervleis oor my vertelling. Een kollega vertel dat hulle ’n paar jaar gelede ook probeer het om saam oggendgodsdiens te hou, maar dit is gou gestop want dit interfere met hulle werksure.  

Kom ons vat hande en kom ons maak seker dat daar waar ons loop mense se lewens verander. Kom ons bid en vra dat die Heilige Gees ons sal lei om daar waar God wil hê ons sy hande en voete moet wees, ons dit sal doen. Die wêreld het dit so broodnodig.

Teks

1 Tessalonisense 2:1-4

Om oor na te dink

Verander mense daar by jou?

Kom mense tot bekering?

Hoe moet jy anders lewe?

Gebed

Vader, help my om so te lewe dat my kontak met ander mense nie tevergeefs is nie. Ek wil graag ’n verskil maak en wys dat U liefde in my is. Help my om met vrymoedigheid oor U liefde en verlossing te praat. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek