Nooit sonder sonde
Soms smokkel ek met my eie kop. Dalk meer as soms. Veral as ek kyk na die mense wat so lyk asof hulle alles reg doen. Hulle klere is sonder kreukels en elke haartjie op die regte plek.
Dis sulke tyd wat ek voel ek maak dit nie. Hulle lyk so sonder sonde. Hulle mond glip nooit met ’n skewe woord nie. Soveel anders as ek. My woordeskat voel soms te min as ek iets groot wil uitdruk en dan glip ’n growwe woord uit.
Ek het al eenkeer ’n storie geskryf oor ’n moerse gat – dis nou om te probeer verduidelik die groot gat wat ’n vriend van my in sy lewe gekry het toe sy pa in ’n motorongeluk dood is. ’n Groot geestelike het daarop vir my gesê dat hy dink die evangelie is kragtig genoeg sonder om ’n kragwoord te gebruik. Point taken.
Dis asof my clutch net te gou gly en ek dinge doen wat ek nie wil doen nie. Dis soos daai Kaapse liedjie wat sê: “My voete loop na Wellington, maar ek gaan Worcester toe.”
Ek voel altyd sleg oor die sonde wat ek sommer net so doen. Maar gelukkig lees ek die vers raak: 8Ja-nee, moet my nie verkeerd verstaan nie: as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie.
Sjoe! Dankie tog hiervoor. Ons almal het ’n klap van die sondeval weg. Dit kan ons maar erken.
As iemand dan sê dat hy of sy nie meer sondig nie, praat hulle nie die waarheid nie. Ons almal is gebore met ‘n sondige natuur. Ons almal doen dinge wat nie binne die wil van die Here is nie. Sommige meer as ander.
Ons hoef nie ons polse af te kou as ons oor die grense geval het nie. Ons moet opstaan, ons sondes bely en weet dat Jesus juis daarvoor na die aarde gekom het – om die straf wat ons verdien, in ons plek te dra.
Tog is ons nie gemaak en net so laat staan nie. Ons moet nou alles in die stryd werp om seker te maak dat ons dit nie weer sal doen nie. Die feit dat ons ’n sondige natuur het, is nie ’n verskoning om dit keer op keer weer te doen nie.
Die sondes wat ons doen, moet ons verafsku. As ons nie regkry om ontslae daarvan te raak nie, moet ons ander vra om te help. Het jy al agtergekom dat dit makliker is om die uitdagings voor God neer te sit as om dit teenoor ’n vriend te bely?
Die pad van herstel begin dikwels sodra ons ons foute teenoor ‘n vriend of ‘n vertroueling bely. Dan kan ’n mens weer begin bou aan maniere om nie weer by daardie paadjies af te draai nie.
So, wees rustig, Hier en daar gaan jou voet gly en jy gaan dinge doen wat nie reg is nie. En ja, soms gaan jy dinge nié doen nie, wat jy weet jy moes gedoen het. Dis ook sonde. Laat dit egter nie ’n verskoning wees om dit ook reg te stel nie.
Probeer met alles in jou om stelsels in plek te kry om al hoe minder te sondig. Gee meer ruimte vir die Heilige Gees om jou lewe te beheer en wys sommer vir ander hoe hulle ook moet lewe.
Teks
1 Johannes 1:5-10
Om oor na te dink
Wat maak jou sondes met jou?
Wat maak jy met jou sondes?
Moet iemand help?
Gebed
Vader, ek is sondig. Ek wil nie meer vir U teleurstel deur my manier van leef nie. Mag ek meer ruimte gee vir die Heilige Gees om my hierin te help. Amen.