Nou spreek ek vrede
Sommige mense het die gewoonte om te sê: Jy “spreek” dit nou oor ons uit. Met ander woorde, omdat jy dit sê, gaan dit gebeur.
Ek stem nie altyd saam hiermee nie alhoewel ek weet daar lê krag in woorde, maar baie keer verg dit nie vreeslik baie insig of wysheid om te sien ’n ding is op pad na ’n afgrond nie. Jy het nie eers Sielkunde 101 nodig om te weet dat hier ’n moewiese ongeluk gaan gebeur nie. Niks met spreek of nie spreek te doen nie.
Ek moet weer by my Grand West pêl uitkom. Ek weet ons gaan nog baie gesels om ’n draai in sy lewe te maak. Ek moet vir hom in duidelike woorde sê dat daar nie plek is vir ’n derde persoon, behalwe die Here, in sy huwelik nie.
Die gevolg hiervan is dat jy jou vrou, jou kinders en dalk jou besigheid ook kan verloor. Dit is nou nie dat ek iets “uitspreek” oor sy huwelik nie. Dit is wat die gevolg gaan wees. Dit is so eenvoudig soos een plus een is twee! Hou aan met die verhouding buite die huwelik en jy gaan big time verloor. Klaar!
Net so spreek ek nie iets uit nie as ek sê: As jy nie intensioneel elke dag probeer om vrede te bewaar nie, gaan jou huwelik op ’n baie wankelrige roete afstuur. Vrede word so maklik deur die ligste ou windjie by die deur van ons huwelike uitgewaai en dit is dan juis in hierdie onvrede waar ruimte geskep word vir verwoesting om in te waai.
Daarom is Paulus ernstig hieroor: 5Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk
Waarheen trek jy wanneer julle die grondpad tref? Trek jy dwars of trek jy na vrede toe? Trek jy eerste vir jouself of dink jy aan die ander een?
Kan ek iets vir jou sê? As jy heeltyd kritiek lewer oor die ander een, trek jy dwars. As jy voortdurend vir die ander een hom of haar foute uitwys, trek jy weg van vrede af. As jy nie die liefdesbaadjie aantrek nie, gaan vrede nie in jou huwelik woon nie. Dis niks se gesprekery nie. Dit is die logiese gevolg.
Om een of ander rede word ons die afgelope paar keer met dieselfde goed oor en oor gekonfronteer. Miskien moet ons nou aandag daaraan gee. Miskien moet ek en jy ’n commitment maak vir liefde en vrede. Kom ons werk bewustelik daaraan om nie eerste vir die self te kies nie, om nie kritiek te saai nie en die ander een se foute maar in die sloot te los.
Hoop jy trek reg!
Teks
Om oor na te dink
Ek vra weer:
Waar duik jou vrede in die hek?
Hoekom dink jy is dit so?
Hoe kan jy anders maak?
Gebed
Ek bid weer: Here, U praat weer vanoggend met ’n hoop van ons. U vrede is so kosbaar en ons het hope daarvan nodig. Maar dan kom die lewe tussenin en ons vergeet hiervan. Help ons asseblief om ’n brug te bou en daaroor te kom! Amen.