God se Woord in vandag se woorde

Nuwe moed en krag


(Ons is dankbaar om te kan sê dat Frans Groenewald, die kunstenaar van alle Kruispad sketse, regop sit na sy beroerte verlede Maandag. Sy regterkant is steeds verlam, maar bid asb saam met ons vir volkome genesing.)

(Soos julle die afgelope week agtergekom het, is daar nog ‘n gogga in ons IT Program. Dankie vir julle geduld terwyl ons dit probeer uitsorteer.)

Ek skrik wakker met ’n slag. Dis 2:30. Ek kan nie slaap nie, want die spanning dryf my teen die mure uit. My maag draai om en om en die koue sweet slaan orals uit. Ek sit met ’n groot projek voor my en die deure gaan die een na die ander toe. Ek wonder wat wil God hê moet ek doen.

Ek draai later die paslaken van die bed af.

Ek raak stil en maak sommer by die Psalms oop. Ek nooi jou om saam met my te kom rus by Psalm 138. Sommer hier reg aan die begin kry ek ’n belofte wat ek met alles in my vasgryp: 2U sal ek loof en aanbid, want ’n mens kan U vertrou. U het U kinders baie lief. Dis so ’n eenvoudige waarheid, maar ons moet dit weer indrink en oor en oor vir onsself sê: God het ons ontsettend lief. Hy sal ons nooit alleen los nie. Hy gee werklik vir ons om en sal enige iets vir Sy geliefde kinders doen.

Jy kan maar op God vertrou. Hy is té lief vir jou om toe te laat dat enige probleem jou sal stukkend druk.

Glo dit. Sê dit oor en oor vir jouself. Maak dit deel van jou wese. Gaan leef dit.

Dit is juis die liefde en omgee van God wat my nooi om my pakkie na Hom te bring. Met versugting en met trane mag en kan ek voor God gaan sit en alles, maar alles, voor Hom uitstort. Hoor net hier: 3Op ’n dag het ek tot U gebid. U het na my geluister en my gehelp.

God sál na jou luister. Die liefde wat God vir ons het, maak dié kanaal oop. Wanneer liefde vloei, raak die geraas stil en hoor God ons geroep om hulp. Dis juis die liefde wat dit moontlik maak dat God nie net hoor nie, maar ook oorgaan in aksie. God se noodplan vir ons probleme skop dan in werking en … 7Wanneer ek in die moeilikheid is, help U my. Mense kry my nie onder nie.

God help. God gee om. God beskerm. Met alles in Hom keer Hy, ja 7… U keer dat mense wat my wil seermaak, dit regkry. U red my uit hul kloue. Die mense met hulle bose plannetjies wat my wil onderkry, hulle wat so onregverdig is, God sal my teen hulle beskerm. Hulle sal my nie onderkry nie. God sal self met hulle afreken.

Maar meer nog: 8Die Here sal vir my sorg totdat ek die dag doodgaan. U liefde hou nooit op nie. Jou aftreepolis by God is reeds in plek. Eintlik het dit alreeds ingeskop, want God sorg elke dag vir jou. Dit wat jy nodig het, sal jy van God ontvang. Hy sal daarvoor sorg.

Is dit nie wonderlike nuus vir my en jou vandag nie? Nou kan ons die dag tegemoet hardloop en ons probleme aanpak, want ons doen dit nie alleen nie. Ons kan op God vertrou en weet dat Hy elke oomblik saam met ons met ons probleme stoei. Hy kan ons nie alleen los nie, want Sy liefde vir ons loop oor. God sal ons help. Hy sal alle planne in werking stel. Hy sal ons lei om deur te breek. Hy en Sy engele sal ’n linie vorm tussen ons en die ander wat ons wil aftakel.

Glo dit. Sê dit oor en oor vir jouself. Maak dit deel van jou wese. Gaan leef dit.

Met die netto effek: 3… My lewe het verander, want U het my nuwe moed en krag gegee. Met nuwe moed en krag kan jy nou die lewe daar buite aanvat, want God wat jou baie liefhet, stap saam met jou!

Teks

Psalm 138

Dink bietjie hieroor

Watter berge lê voor jou?

Praat jy met God daaroor?

Wat moet jy doen?

Gebed

Vader, dankie vir U liefde. Dankie dat ek mag vra. Dankie dat U hoor. Dankie vir U hulp. Dankie dat U vir my sorg. Dankie dat ek nou weer moed kan hê en met nuwe krag die wêreld kan ingaan. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek