Ôk maar mens
Vandag nooi ek jou bietjie in my eie wêreld in. Ek dink dit is goed om ’n slaggie eers net die pas te makeer en so ’n stukkie te sê oor die een agter die keybord en hoekom ek so al te gereeld daar by jou inval.
Ek het ’n lang anderste pad geloop om uit te kom by my roeping. Ek het regtig ervaar dat God my roep om teologie aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer. Ek was nie so ’n goeie student nie en het my eerste 3-jaar graad in 5 jaar ingeprop. Ek het vir Interkaap bus gery, my eie besproeiingsbesigheid gehad en aande om in die Spur gewerk. Gelukkig het ek 3 vriende gehad wat my deur die teologiese graad getrek het.
Toe ek uiteindelik klaar was, het ek nie die roeping gehad om ’n kansel êrens in ’n gemeente te bestyg nie. Ek het vir 12 jaar op twee wonderlike wingerdplase as bestuurder geboer en daarna vir 8 jaar in die korporatiewe wêreld saam met die groot honde gehol.
Dit was in 2011 toe ek en Renata geroep is om in 2012 voltyds in die bediening in te gaan en so het Kruispad247 aanlynbediening tot stand gekom. Alles wat in ’n gewone kerk gebeur, gebeur by Kruispad247 op die internet, selfoon en radiogolwe.
Ek is in die hemel. Ek leef my droom. Dis vir my so ’n groot voorreg om ander mense te mag leer. Dis so wonderlike om mense se hande te vat wat êrens in ’n gat getrap het of met ’n skuldgevoel sit en te help om weer die son te sien opkom.
Dis vir my so wonderlik om die teks van 2 000 jaar gelede te laat grondvat in vandag se lewe. Om dit verstaanbaar te maak vir myself en dan oor te gee aan ander om God se wil vir vandag vir Jan en San Alleman, laat die energie instroom.
En dis nou hier waar ek die deur van my hart so effe groter oopstoot en eenvoudig eerlik is. Soms wonder ek of ek die Woord van God reg hoor en reg oorvertel. Soms is ek bang ek is soos die Fariseërs van wie Jesus praat en sê dat hulle blindes is wat ander in die sloot lei.
Soms val ek self in ’n gat en dan wonder ek of ek goed genoeg is. Is my woorde nie te dun nie? En ja, die Bybel sê mos dat die bedienaars van die Woord in ’n ander ry daar by die poorte gaan staan, waar die vergrootglas dikker is.
Ôk maar mens!
Gelukkig het ons Vader my omring met familie en vriende wat kan trek en stoot en my help om uit die gat te kom. Dan luister ek mooi na God se Woord uit Petrus se mond: 2Pas die mense wat aan God behoort goed op, want julle moet as hulle leiers vir hulle sorg. Sorg mooi vir hulle. Dit moet nie vir julle ’n las wees asof iemand julle dwing nie. Nee, julle moet dit doen omdat julle dit graag wil doen en dit vir julle lekker is. Julle moenie vra wat julle daardeur gaan ontvang nie, maar liewer wat julle kan gee deur vir ander iets te beteken. God wil dit so hê.
Ek gryp die opdrag met albei hande aan en kan myself nie keer om weer en weer vir elke een waarmee die Here my toevertrou het op te bou en te ondersteun nie. Ek doen dit vir seker omdat dit my roeping is en ek met alles in my ’n verskil wil maak en vir jou iets wil beteken.
Dankie dat jy my toelaat om gereeld en soms op ongeleë tye by jou in te val. Ek glo God wil dit ook so hê. En laastens, bid asb. vir ons, want, ja, ons het dit so nodig!
Teks
1 Petrus 5:1-4
Om oor na te dink
Wie bedien jou met God se Woord?
Bid jy vir hom of haar?
Bid jy genoeg?
Gebed
Vader, ek bid nou vir die een wat my bedien. Amen.