Om die planne te volg
Jaco gee my hierdie insiggewende beeld:
Ek is ’n tegniese tekenaar en programmeerder by ’n profielsny-besigheid.
My werk is om die tekening te doen en dan te programmeer om gesny te word in sekere dikte metaalplate.
Nadat ek die tekening gemaak het, moet ek dit in die plaat laat pas met al sy verskillende hoeveelhede, sodat ons die minste vermorsing het. Ek moet dit so beplan dat dit nie net maklik is vir die operateur om te verstaan nie, maar ook vir versending om die parte wat eerste moet gaan, te kry.
Dit is nie altyd maklik nie, maar wanneer ek dit uiteindelik reggekry het, gee ek die planne vir die operateur om te sny.
Maar dan verander hy alles! Sny net wat hy wil in ’n ander plaatgrootte. Alles op sy eie manier! Al my moeite is verniet en niks word gesny soos ek dit beplan het nie. Die vermorsing is so groot!
Maak ons mense nie ook soos die operateur nie? God het alles vir ons beplan en gemaak sodat dit maklik kan wees vir ons om te verstaan. Maar dan volg ons ons eie wil en manier van dinge doen. Al daai moeite wat God en Jesus vir ons gedoen het, is dan met die drein af.
Ons moet eerder die program volg. Ja, dis nie altyd maklik om dit te verstaan nie, maar alles sal tog in plek val, as ons doen soos die program sê. As ons die Heilige Gees volg en doen wat Hy vir ons vra, sal ons nie net nader aan God beweeg nie, maar ook ander kan help om dit ook te doen.
Sjoe, Jaco se beeld laat ’n mens dit maklik verstaan. Met ons eie keuses wat in die pad kom staan, maak ons droog. Ons kry die plan vir ons lewe, maar ons doen wat ons dink die beste is.
Dit is presies wat Esau gedoen het. Hy het sy eie kop gevolg en toe kom spyt heel te laat: 17Julle onthou ook mos wat toe gebeur het. Later wou hy sy reg as oudste seun terughê en hy het verwag dat sy pa vir die Here moes vra om dit te doen. Maar die Here wou nie. Al het hy lang trane gehuil, kon hy niks aan die situasie verander nie.
Na Esau klaar sy eie kaart opgetrek het en op sy eie geboude paaie deur die lewe gestap het. Hy het die planne van die Tekenaar ontvang, maar besluit om sy lewe op sy eie manier te sny.
En toe, eendag, toe hy alleen en ongelukkig homself in die hoekie vasgeverf het, kom hy druipstert terug en wil die planne hê wat oorspronklik vir sy lewe opgetrek is. Maar toe is dit te laat.
Want die Here wou nie …
Mag dit ons so bietjie wakker skud. Mag ons seker maak dat ons met die regte planne van ons lewe in die hande staan en mag ons dit stiptelik volg, want dis hoe die Here dit wou hê …
Teks
Hebreërs 12:12-17
Om oor na te dink
Hoe lyk God se planne vir jou lewe?
Hoe leef jy dit uit?
Waar moet jy bietjie rigting verander?
Gebed
Ons Vader, dankie vir U planne vir my lewe. Ek weet soms volg ek my eie. Ek wil dit nie doen nie. Laat U Gees voor my stap en my lei. In Jesus se Naam, amen.