God se Woord in vandag se woorde

Om nie te verloor om te besef nie


’n Mens moet mos altyd eers iets verloor, voordat jy besef wat jy eintlik het.

Ek is bevoorreg om nie baie siek te word nie, maar so een keer in drie of vier jaar klap die griep my plat in die bed. Weens my rustelose nagrus, besluit ek om in een van die kinders se kamers in te trek en myself te isoleer. Ek in my eie kampie.

Die lekker om op jou eie te wees, het sommer in die eerste dag al verdwyn en ek het myself baie jammer gekry. Ek het alles gemis. Gemis om saam met die res van die familie te eet. Gemis om net aan my vrou te raak. Gemis om saam te praat. Gemis om net in ander se teenwoordigheid te wees.

Ewe skielik besef ’n mens weer wat jy het en hoe nodig jy ander het om te lewe.

Hoekom moet ’n mens eers dinge verloor om te besef wat dit eintlik vir jou beteken?

Net so besef ons nie regtig wat Jesus vir ons gedoen het nie. Ek vermoed die skrywer van Hebreërs weet dat ons mense te maklik vergeet. Daarom dat hy keer op keer vertel wat Jesus vir ons by God doen.

3Die eintlike werk wat ’n hoëpriester moet doen, is om namens mense vir God geskenke en offers te gee. Jesus moes daarom ook iets hê om te offer.

So kom ons stap weer deur die werkafbakening van die priesters in die Ou Testament. Een van die grootste werke van die priesters was om offers aan God te bring, sodat God nie die mense vir hulle sonde straf nie.

In plaas daarvan dat mense self moes sterf vir hul sondes, is ’n dier doodgemaak. Die mens se straf is dus afgekoop deur die dier wat doodgemaak is. Ons kan dus sê dat die dier in die plek van die mens gesterf het.

Hierdie metode was egter nie volhoubaar nie en moes voortdurend weer en weer gedoen word.

Toe kom Jesus as die finale hoëpriester en natuurlik moes Hy ook offers bring. Die offer wat Hy bring, moes egter die finale offer wees. As Jesus Sy offer bring, moes dit nie nodig wees om weer en weer te bring nie. En al offer wat hiervoor kon kwalifiseer, was Jesus self.

Hierdie offer was genoeg. Hierdie offer was oorgenoeg. Soveel genoeg dat dit nooit ooit weer herhaal hoef te word nie. Die offer van Jesus het vir die hele mensdom se sondes betaal. Die wat was en die wat nog kom. Dit is die mees volmaakte offer.

My en jou skuld is klaar ten volle betaal. Watter ongelooflike nuus is dit nie?

Die vraag is net, hoe kan ons werklik besef wat ons hier het? Wanneer ons siek is, besef ons opnuut hoe kosbaar gesondheid is. Dan waardeer ons dit weer. Ons kan nie eers vir Jesus verloor voordat ons regtig besef wat Hy vir ons beteken nie.

Dalk moet ons in ons geestesoog die prentjie gaan bymekaarsit waar Jesus nie die hoëpriester is nie. Dan sal ons die patetiese, hopelose plek waar ons ons bevind raaksien.

Hopelik sal ons dan werklik besef wat Jesus vir ons by God doen. Hopelik sal ons dan oorval word van dankbaarheid. Hopelik sal ons dan ons lewe so leef dat ons nie iets hoef te verloor voordat ons besef wat Jesus eintlik vir ons beteken nie …

Teks
Hebreërs 8:1-6

Om oor na te dink
Wat maak Jesus se hoëpriesterskap aan jou?
Beweeg dit jou lewe?
Leef jy anders?

Gebed
Jesus, help my om nooit maar nooit te vergeet wat U vir my gedoen het nie. Help my om U offer uit te leef orals waar ek gaan en verlossing te bring. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek