God se Woord in vandag se woorde

Om te glo


23En dít is sy gebod: Ons moet in sy Seun, Jesus Christus, glo. 

Die grootste opdrag van God, die grootste wet vir elke mens op aarde, is dat ons moet glo in Jesus Christus. Ons moet glo dat Jesus die Seun van God is en dat God Hom gekies het om te sterf vir die hele mensdom se sondes. 

Ons moet glo dat Maria deur die Heilige Gees aangeraak is en dat sy verwagtend geraak het en Jesus in die lewe gebring het daar in ’n nederige stal in Betlehem.  

Ons moet glo dat Jesus vir 33 jaar op die aarde was en in hierdie tyd wonderwerke gedoen het, mense genees het van ongeneeslike siektes, duisende mense met ’n paar vissies en broodjies kos gegee het en dat daar nog ’n hele paar ballas mandjies vol oorskiet oorgebly het.  

Ons moet glo dat Jesus op die water geloop het om Sy dissipels op die oop te see te ontmoet. Hy het hulle geleer om, die dag as Hy teruggaan hemel toe, die stokke oor te vat en die kerk van Christus hier op aarde te bou. 

Ons moet glo en op ’n manier saam met Jesus die Via Dolorosa val-val stap. Ons moet ook die pyn voel wanneer die klippies in die swepe stukkies vleis uit Sy ligaam ruk. 

Ons moet glo dat Jesus aan die kruis vasgespyker is. Dis onmenslik. Eintlik kan ons nie vir onsself indink watter pyn Hy moes deurworstel toe die spykers deur Sy hande en voete gekap is nie.  

Ons moet glo dat Jesus daar alleen was en uitgeroep het: “Eli, Eli, lama Sabagtani?” Daar waar Hy aan die kruis gehang het terwyl die soldate en ander mense met Hom die spot gedryf het. 

Ons moet glo dat Jesus daar aan die kruis Sy laaste asem uitgeblaas het en in die hel ingestap het.  

Gelukkig en dank Vader tog, moet ons ook glo dat Jesus na die derde dag deur die kettings van die dood gebreek het, opgestaan het en net ’n paar doeke in die graf gelos het.  

Gelukkig en dank Vader tog, het hierdie hele verrykende gebeure die sondelas van my skouers kom haal. Ja! Ek glo dat Jesus in my plek, vir my sondes die straf kom dra het, sodat ek nie daarvoor hoef pa te staan nie. 

Ek glo dat Jesus lewendig opgevaar het na die hemel en dat Hy aan die regterkant van God die Vader sit. Daar tree Hy in vir my en neem Hy self elke saak waar vir God se kinders in die hofsaal. 

Ek glo dat Jesus Sy Gees gestuur het om in ons elkeen te woon. Dit is Hy wat elke dag vir ons lei. Dis Hy wat weet waarheen ons op pad is, wat ons moet doen en wat ons nie moet doen nie. Hy praat heelpad met ons.  

Ek glo dat ek in ’n lewendige en intieme verhouding met Jesus staan en dat ek nie sonder Hom deur die lewe kan gaan nie. Ek glo dat Hy die heeltyd van my weet en by my is.  

Ek glo dat die opdrag om in Jesus te glo, my moet mobiliseer om Jesus nie net vir myself te hou nie, maar te gaan deel met die wêreld daar buite, sodat ander ook die opdrag kan sien en hoor en dalk ook die groot opdrag sal aanvaar en in Jesus Christus glo.  

Teks
1 Johannes 3:19-24 

Om oor na te dink
Glo jy in Jesus?
Glo jy dat Hy jou Verlosser is?
Lewe jy so? 

Gebed
Jesus, ek glo vir seker in U. Ek kan nie sonder U deur die lewe nie. Ek kan nie sonder U in die lewe hierna nie. Ek glo vir seker in U! Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek