Om te spring clean
Wanneer iemand tot bekering kom, verander sy pad se loop. Hy tree anders op. Hy doen dinge op ’n anderse manier as voor hy tot bekering gekom het. Dis asof hy met alles in hom ontslae wil raak van die verkeerde dinge.
Jy sien, ’n mens se hart word aangeraak en dis juis die hart wat die mens aanvuur om ’n nuwe lewenstyl aan te leer. Dis asof die skille van ’n mens se oë afval en jy ewe skielik sien wat nie reg in jou lewe is nie.
Vir die eerste keer skyn die spotlight op die dinge wat nie so vars is nie. Vir die eerste keer is ’n mens se neusgate oop en jy ruik die dinge wat al ’n klank het. Die dinge wat eintlik die wêreld vergiftig.
Dis die wysheid wat van Bo kom. Nou wil ’n mens begin skoonmaak. Al die vuil en onsuiwerhede in ’n mens se lewe dobber nou na bo. Dit maak ’n mens skaam, daarom wil ’n mens dit met wortel en tak uitroei.
Dis wat Goddelike wysheid aan ’n mens doen.
17Maar as ’n mens leef soos God dit in sy wysheid bedoel het, sal jou lewe heeltemal anders lyk. Dit sal ’n lewe wees waarop die sonde geen houvas het nie.
Ek dink lank na oor die sonde wat nie meer ’n houvas op ’n mens sal hê nie. As ek terugkyk op my paadjie, is daar dinge wat weer teruggekruip het in my lewe. So ongesiens kom trek hulle weer in en ja, dan hou hulle my weer vas. Hulle breek my spoed en keer dat ek uitkom waar ek moet uitkom.
Die wysheid is nog hier om vir my te wys wat het ’n klankie en waar is dinge wat nie so vars is nie. Maar op ’n manier laat ek hulle weer een vir een terug in my lewe en die gevolge nie so goed nie.
Ek sal weer moet skoonmaak.
In ons huis is skoonmaak hoog op die lys. Amper elke week word ’n vertrek in die huis gevat en alles word uitgedra. Dan word daar gestofsuig en gewas. Dis ’n heel herhalende proses vir as daar dalk êrens nog ’n klein ou stoffie lê.
Dis verstommend hoe gou na die diep skoonmaak stof en vullis hul lêplek kan kom maak. Dis asof daar ’n klomp stofsaaiers inkom en voor jy jou weer kom kry, moet jy weer uitdra en skoonmaak.
En so is dit in ons geestelike lewens ook. Ek weet nie of ons nie omgee nie of die deur eenvoudig net laat oopstaan vir die verkeerde goeters om in ons lewe in te kruip. Daai dinge wat ons so lekker gedoen het voor ons God se kind geword het.
Ons moet die stoflappe gaan uithaal. Ons moet vra vir ’n hoop wysheid en sommer ’n flits ook. Dan moet ons die verkeerde goeters een vir een gaan uitvis en uithaal. Ons moet afstof sodat ons lewe weer rein kan wees, skoon van enige ongeruimdhede wat nie by die nuwe mens pas nie. Dan sal ons leef soos God wil hê ons moet leef.
Teks
Jakobus 3:13-18
Om oor na te dink
Het daar êrens stof by jou opgegaar?
Hoe kan jy ontslae raak daarvan?
Wanneer?
Gebed
Vader, dis so waar! Sonder dat ek dit eers opmerk, kruip die stof, die verkeerde dade weer terug in my geestelike huis. Help my om daarvan ontslae te raak, sodat ek weer rein voor U kan staan. In Jesus se Naam. Amen.