God se Woord in vandag se woorde

Om vir vrede te kies


Ek lees op Facebook van twee jong manne wat ’n omie aanval by ’n vulstasie in Rustenburg. Dit kos 7 plate om sy gesig weer op te bou. Dit is alles op sekuriteitskameras vasgevang en dit gons op Facebook om die manne voor stok te kry. En dis ook reg so. Hoekom het die manne soveel aggressie in hulle dat hulle nie reguit kan dink wat hulle doen nie?

Maar dis nie net daar buite nie. In baie huwelike gaan dit rof en neem mans dit net te vêr. Ek stap ’n paadjie met Rita (skuilnaam). Sy vertel my van net een insident:

In my huwelik kan my man net doen wat hy wil, want hy sorg vir my. Daarby bedoel ek, hy kom en gaan sonder om met my te reël. Ek was nog altyd lojaal teenoor hom en het hom nooit verkul soos hy vir my nie.  

Ek moet kort-kort hoor ek is vet, my familie is sleg, ek beteken niks vir hom nie, hy kan iemand beter kry as ek en en en …

Ek vergewe hom, maar ek kry swaar.

Sjoe! Hoekom mors mense so met mekaar? Wat gee mans die mag om so teenoor vrouens en omies op te tree?

Ons weet dat ons vir mekaar moet lief wees. Dis ’n opdrag en ’n werkwoord. Maar saam met dit kom daar nog ’n opdrag, nl. vrede. Ons moet sorg dat daar vrede bewerk word.

Hoor jy die woord “bewerk word?” Jip, weer ’n werkwoord. Ons moet vrede bewerk in ons verhoudings: 5Dit moet ook vir julle baie belangrik wees om die vrede wat Christus vir julle gegee het, tot elke prys te bewaar. As julle met mekaar begin vassit, maak juis dan die keuse vir die vrede van Christus. Om die vrede te bewaar is belangrik, want God verwag van julle om soos een liggaam saam te werk.

Ons moet die teksvers uitdruk en orals plak.

Die teks sê nie dat ons nie gaan vassit nie. Nee, dit veronderstel dat ons êrens langs die pad met mekaar gaan vassit. Dis deel van die lewe en soos die Engelsman sê: It comes with the territory. Ons kan nie hier verbykom nie. Ons is gerat om skouers te skuur en te verskil. Ons kan dit nie keer nie, maar ons kan wel die manier hoe ons daarop gaan reageer, beheer.

Ons het ’n keuse: Gaan ons, wanneer ons hak, vir die vrede van Christus kies of gaan ons daarteen kies?

En soos die Engelsman weer sê: The choice is yours!

Hoeveel beter sal die lewe nie vir almal op hierdie aarde wees as ons die regte keuse maak nie. In ons huwelike, vir Rita en haar man, vir ons werkgewers en werknemers, vir ons vriende en soos ek altyd sê: Ook vir die vreemdeling wat so nou en dan oor ons pad gestrompel kom.

Toe man, maak die regte keuse en kies vir vrede. God se vrede.

Teks

Kolossense 3:12-17

Om oor na te dink

Waar duik jou vrede in die hek?

Hoekom dink jy is dit so?

Hoe kan jy anders maak?

Gebed

Here, U praat vanoggend met ’n hoop van ons. U vrede is so kosbaar en ons het hope daarvan nodig, maar dan kom die lewe tussenin en ons vergeet hiervan. Help ons asseblief om elke keer die regte keuse te maak en vrede te kies. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek