God se Woord in vandag se woorde

Om vry van die verlede te leef


’n Klompie jare gelede kry ek ’n e-pos van Annie. ’n Klein stukkie lig kom in haar donker wêreld op. Sy skryf: 

Jy het so pas my lewe gered met die e-pos. Ek wou my lewe neem. Ek het nie krag gehad nie, maar het tog die e-pos gelees. Ek glo dit kom direk van God af. Baie dankie!  

Ek het my tweede werk die jaar verloor. Die mense by wie ons ’n kamer huur, wil hê ons moet trek. Ek weet nie waarheen en hoe verder nie. Ek is ’n goeie Christenvrou wat nog so baie het om te gee. Almal draai hul rûe op my. 

’n Paar jaar later klop ek weer aan haar virtuele voordeur en vra hoe dit gaan. Die son het in haar lewe opgekom en skyn heerlik: 

Baie dankie dat jy vra na my welstand. Ek het ‘n ongelooflike groot getuienis om te deel. Dit gaan beter as goed, baie dankie. Ek het nog deur baie swaarkry gegaan na my e-pos aan jou. As ek nou terugkyk, kan ek nie glo dat ek deur al daardie nare ervarings en lyding nog hier is nie.  

God se liefde en genade het my gered. As ek nie gehoorsaam was nie, sou ek seker nou weg gewees het. God moes my eers leer om Hom 100% te vertrou, te laat los en te let God. 

Ek het vir berading by my kerk gegaan en ’n dame wat die gawe van bevryding het, het vir my gebid. Daar het baie “goggas” uitgekom. Diep sielswonde van my kinderdae, ouers wat gedrink het en ons emosioneel en op baie ander vlakke verwaarloos het.  

Ek was ook op 14 deur my suster se man verkrag. Dit het op sy eie het my jong lewe vernietig. Ek het daardie geheim gedra totdat ek daarvan bevry is. Ek het begin drink om ’n pleister op my eina te plak – dit het natuurlik alles vererger. 

Maar nou is ek vry! Ek het bly bid en na God geroep. Hy het my oral uit die wêreld se hande gehaal. Hy het my voorberei om vir Hom te werk ten spyte dat ek wou huil oor alles wat ek verloor het. Hy gee nooit op op ons nie. As Hy jou op jou Naam roep, is jy Syne! Vir ewig! 

God se genade en liefde is te groot vir my om te verstaan. Ek verdien dit nie eens nie. As ek dink aan wat ek als gedoen het. My skande en pyn, skuldgevoel is weggeneem. Jesus het mos after all die prys betaal vir my sonde. 

Dinge uit die verlede kan ons weerhou om ’n vol lewe te lei. Sommige dinge het onsself aangevang en dan sleep ons ’n sak van skuldgevoelens saam. Sommige is deur ander gedoen en dan sleep ons ’n sak vol onvergifnis saam. Dan is ons bang vir God en ons wil wegkruip. Daar is egter ’n ander lewe vir ons beplan: 

21My liewe vriende, as ons van hierdie skuldgevoelens en slegte gewete ontslae is, is daar niks wat ons meer keer om by God op ons gemak te wees nie. 

Hierdie is eintlik ’n opdrag. Ons moet erns hiermee maak en seker maak dat ons verlede nie ons toekoms bepaal en ons weerhou om uit te kom waar God wil hê ons moet uitkom nie.  

Teks
1 Johannes 3:19-24 

Om oor na te dink
Wat maak jou gewete vol?
Watter skuldgevoelens breek jou spoed?
Hoe kan God help?

Gebed
Vader, dinge uit die verlede trek baie amps. Ek weet U het reeds daarvoor gesterf. Gee my wysheid en rigting om vry te kom. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek