God se Woord in vandag se woorde

Ons dam se ganse


Daar is ’n engelse spreekwoord wat sê: Birds of the same feather flock together. In Afrikaans praat ons van ons dam se ganse. Ek vermoed dit is vir ons almal waar. Ons kies vriende wat so min of meer soos ons is. Ons kies skole vir ons kinders waar opvoeding aangebied word soos ons dit verkies. Ons gaan na ’n kerk toe waar ons gemaklik is met die bediening van die Woord.

Ek vermoed daar is niks mee verkeerd dat ons so tussen die eenderse ganse op die dam rondhang nie. Die verkeerdheid kom egter in as ons neersien op ander ganse wat by ander damme rondhang. Ons het gou iets te sê oor mense wat die kant of daai kant van die dorp bly. Ons hang gou ’n bordjie om iemand se nek wat êrens ’n verkeerde afdraai in sy lewe gemaak het. Ons lewer gou kommentaar oor mense se besittings. Ja, gaan luister maar weer na die afgelope week se praatjies met jou vriende.

En eintlik het dit niks uit te waai met waaroor dit eintlik gaan nie. Hier is ’n goeie en reguit les vir ons almal: 11… God wil nie hê mense moet met mekaar vassit omdat hulle nie dieselfde lyk of nie dieselfde taal praat nie. Dit maak nie vir Hom saak of iemand nog altyd ’n kerklidmaat was en of hy eers laat in sy lewe ’n Christen geword het nie. Hy vra nie of iemand kan lees of skryf of waar hy vandaan kom nie. Nog minder vra Hy hoe belangrik iemand in die gemeenskap is en of hy ’n goeie werk het of nie. Al wat God vra, is of Christus in iemand se lewe is. Want al wat regtig in die lewe tel, is net Christus.

Sien jy dat ons maklik op verkeerde dinge in ander mense se lewe konsentreer? Vir God maak niks daarvan saak nie. God het net een vraag: Hoeveel plek gee jy vir Christus in jou lewe? Is Christus die middelpunt van jou lewe? Dis al wat tel.

Ons moet dieselfde passie as God hê. Ons moet ook net die een vraag vra as ons na ander mense kyk: Tel Christus alles in jou lewe? Christus gee waarde aan ’n mens se lewe. Net Christus. Nie ’n kar nie. Nie ’n huis nie. Nie die klere aan jou lyf nie. Selfs nie met wie jy bevriend is nie. Niks daarvan kan vir jou waarde gee nie. Net Christus gee vir jou waarde.

Weet jy hoe waardevol is jy vir God? Jy het soveel waarde dat Hy bereid is om Sy waardevolste besitting, Jesus, op te offer sodat jy nie self vir jou sondes met die dood hoef te betaal nie. Dis hoe waardevol jy is.

En wat nou van mense om jou wat nie vir Jesus in hulle lewe het nie?

Dis ons verantwoordelikheid om deur ons manier van leef vir Jesus aan hulle bekend te stel. Ons gedrag moet hulle laat hunker na Jesus, sodat hulle ook later vir Hom in hulle lewens innooi. Dalk is jy die enigste een wat vir Jesus aan hulle bekendstel.

Mag God ons help om só te lewe dat Jesus ook deel word van almal rondom ons sodat daar al hoe meer eende op ons dam is.

Teks

Kolossense 3:9-11

Om oor na te dink

Hoe kyk jy na ander mense?

Wie rondom jou het nie vir Jesus as gemeenskaplike faktor nie?

Hoe kan jy Jesus aan hulle bekendstel?

Gebed

Vader, ons sukkel dikwels om te onderskei tussen dit wat waardevol is en dit wat regtig tel. Dankie dat U ons vandag herinner dat al wat vir U belangrik is, is dat Jesus Christus deel van ons lewe is. Mag ons ook na mekaar kyk met dieselfde gesindheid. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek