God se Woord in vandag se woorde

Ons harte vertel die storie


Ons seun neem deel aan die Ysterman in Durban. Die atlete swem 3.8 km, ry 180 km fiets en dan nog gou ’n volle marathon. Ek verstaan nie hoe ’n mens dit alles kan doen nie, veral as jy ’n lyfie het soos ek. 

Dit laat dink my aan Spreuke 28:1 wat sê: Die goddelose hardloop weg, al jaag niemand hom nie, maar ek vermoed dis ’n storie vir ’n ander dag. Vandag wil ons juis praat oor die mense wat doen wat God vra. 

So wag my seun tot op die nippertjie om sy vervoer- en reisreëlings uit te sorteer. Twee dae voor die tyd laat weet hy my hy het sy vlugte bespreek. 

Ek vra waar hy gaan bly. Nee, sê hy kordaat, ek het mos met oom Jan gereël. Ek sien die donderwolke vinnig saamtrek op die horison, want ek het nog net vir Jan gevra wat die moontlikheid is dat my klong by hulle kan oorslaap. Dis nou te laat om te sê my seun is op pad.  

Ek onthou van iemand wat eendag genoem het dat as ons in Durban kom, ons asseblief by haar moet oorslaap. Gelukkig ken ek my eie vermoë en stoor haar nommer: Belinda, Verblyf Durban. 

Laterig die aand stuur ek ’n versigtige, voelers-uit-stekerige boodskap om te hoor of die aanbod nog staan en of dit ook van toepassing is op my seun. Dis nou al minder as twee dae voor hy moet slaapplek kry. 

Die volgende oggend kry ek die boodskap op my foon: “Goeienaand! Ek weet nie op die oomblik met wie ek praat nie. Ek is ongelukkig nie Saterdagaand by die huis nie”.  

Dis te verstane. Ons het te laat gewag om ’n bed te soek vir my seun. Nou sal ons maar een van daardie duur hotelle moet bespreek en omdat dit so ’n groot geleentheid in die stad is, het hulle mos hul pryse gelaai.  

Die donderwolke kom vinniger aangerol van die horison se kant af. 

Nadat Belinda gesê het sy weet nie met wie sy praat nie en dat sy in ieder geval nie tuis nie, gaan sy voort: “Jou seun is baie welkom om in my huis te kom slaap as hy nie sal omgee om na homself om te sien nie”. 

Kan jy dit glo? Om deesdae so iets aan te bied aan iemand as jy nie eintlik seker is jy weet met wie jy praat nie! 

Ek skryf vir haar terug: Sjoe, Belinda! Dis wonderlik dat jy so gaaf is en jy weet nie eers met wie jy praat nie! Dis ’n groot getuienis van jou hart, veral hoe woes dit in ons land gaan! 

Belinda se manier van lewe wys in wie sy glo. Sy wys dat sy uit dankbaarheid nie anders kan doen nie. Sy stel haar hart, haar huis, haar alles oop aan ander wat in die nood is. 

Ek weet waarheen Belinda op pad is, want sy doen die dinge wat die hart van God warm maak. Sy is op pad na haar ewige Vader, want die Bybel sê so: 17Maar die persoon wat doen wat God vra se pad loop saam met God die ewigheid in. 

Laat ons harte presies dieselfde storie vertel. 

Teks
1 Johannes 2:15-17 

Om oor na te dink
Watter storie vertel jou hart?
Doen jy wat God vra?
Is jy seker dat jy altyd saam met God gaan wandel? 

Gebed
Vader, dankie vir die pragtige storie. Ek wil ook so wees. Ek wil ook doen wat U vra en ’n verskil in ander mense se lewens maak. Gee my die krag en wil en insig om so te lewe. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek