Ons is regtig familie
Ek is die jongste van ses kinders. Ek was nie op die program nie, maar dis ’n storie vir ’n ander dag. Ons is ’n hegte klomp, seker omdat ons pa en oudste broer vroeg in ons lewe oorlede is.
Elke tweede jaar rondom Kersfees kuier ons saam in die Sederberge. Ons braai en maak pot. Ons gesels tot laat in die nag en deur die dag dryf ons almal in die dam en maak sports.
Wanneer iemand voorstel dat ons dalk ‘n jaar in die berge moet skip, is dit ons kinders wat vinnig hul misnoeë uitbasuin. “As julle nie wil gaan nie, is dit fine, maar ons gaan, want ons wíl by die familie wees!”
Dit is eintlik wonderlik om te sien hoe die kinders die stokkie oorvat. As een in die ander se dorp kom, word daar gekuier en die foto’s op die familiegroep gedeel. Almal met groot glimlagte.
Dis wonderlik om deel te wees van só ’n familie. Ek weet ek kan enige tyd na enige een van hulle gaan as ek ‘n krisis het. Hulle sal geen klip onaangeraak laat om my situasie beter te maak nie.
Dis wat familie doen.
In my gesin is die bande ook onbreekbaar. Ek sal regtig enige iets vir my kinders doen. As ek in een se stem hoor dat daar dinge is wat nie reg loop nie, wil ek dadelik weet wat verkeerd is en wat ek daaraan kan doen.
Jesus het met Sy koms na die aarde nie net ons skuldlas aan die kruis op Golgota betaal nie, maar ons wat in Hom glo, ook Sy broers en susters gemaak. Hy het ons ingetrek in Sy familie en só deel gemaak van die goddelike familie.
4My kinders, julle is deel van die familie van God en behoort aan Hom. Daarom staan julle heeltyd aan die wenkant teen hierdie vals profete. Die rede is eenvoudig dít: God, wat aan julle kant is, is baie groter en sterker as die een wat aan die kant van die wêreld staan!
Omdat ons deel is van God en Jesus se familie, is daar natuurlik voordele. Net soos ek werklik enige iets sal doen vir my kinders en die res van my familie, sal God, ons Vader, en Jesus, ons Broer, ook enige iets vir ons doen.
God is vir seker groter as die vals profete en hulle kan hulle maar gereedmaak vir ’n groot pakslae. As jy bogstories vertel oor God of oor Jesus, sal dit nie ongestraf bly nie.
Om deel van God se familie te wees, strek natuurlik veel verder as om die valse profete te ontmasker. Jy kan letterlik enige iets na die familietafel toe bring en daar sal na jou geluister word.
God gebruik gereeld die res van die familie hier op aarde om die uitdagings wat oor ons pad kom, aan te spreek. Dis wat familie doen. Ons is mos daar vir mekaar.
Ons moet ons oë oophou vir familie in Jesus, ons broers en susters wat aandag nodig het. Dalk is jy net die een wat God uitgekies het om die familielid in verknorsing te help.
Teks
1 Johannes 4:1-7
Om oor na te dink
Is jy deel van God se familie?
Wie is jou geestelike familie hier op aarde?
Laat jy toe dat ander gelowiges jou dra wanneer jy swaarkry?
Gebed
Jesus, dankie dat U my deel gemaak het van God se familie. Dankie dat ek baie geestelike broers en susters op aarde het. Help my om my oë oop te hou as een van hulle hulp nodig het. Amen.