God se Woord in vandag se woorde

Oorlopende liefde vir straatbrakke


Ek sien ’n prentjie van ’n hond wat jy sommer kan sien uit sy nate gelukkig is. Dis nou nie ’n duur, opregte hond nie. Wanneer jy die mense vra na die ras, sê hulle wel hy is ’n opregte hond, want sy ma en pa was albei ’n hond.

Hulle het die hond opgetel. Heel verwaarloos. So swak dat hy nie eens kon opstaan nie. Hy was ernstig siek met sere oor sy hele lyf. Hulle het hom huis toe geneem om sy laaste paar ure rustig dood te gaan.

Maar die hond het nie moed opgegee nie. Om een of ander rede het die hond bly veg en druppel vir druppel water in sy lyf forseer. Net ’n paar druppels van die melkkossies wat hulle hom gevoer het, kon hy sluk.

Vandag ken die hond nie die einde van sy vreugde nie. Hy spring en blaf. Hy lek jou hande en as jy sit, vee hy gou sy hele tong deur jou gesig. Sommige sal seker gril, maar hierdie hond is ’n toonbeeld van vreugde.

Amper dood en nou bokspring hy. Dit was heel waarskynlik die liefde en die omgee wat hy vir die eerste keer daar aan die amper einde van sy lewe ervaar het, wat hom laat veg het vir sy lewe. ’n Greintjie hoop het hom laat veg.

Liefde maak so. Liefde laat ’n mens gryp na grashalmpies. Liefde laat ’n mens dinge doen wat jy nie geweet het jy kan doen nie. Liefde motiveer. Liefde probeer weer. Liefde gee hoop. Liefde gee lewe.

Voorheen het ons ook nie ware liefde geken nie. Ons was ook eers op die straat. Weggegooi. Verhonger. Verlore. Totdat ons ons vasgeloop het in die liefde van God. Toe is daar hoop. Toe is daar ’n toekoms en vreugde wat die mens se verstand te bowe gaan, kry sy lêplek binne ons.

10… Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken.

God is vir ons mense só lief dat Hy nie anders kon as om Sy eie Seun na die aarde te stuur en só Sy eie lewe te gee, sodat ons nie vir die sonde wat ons aanvang, hoef te sterf nie.

Watter groter bewys is daar vir opregte liefde? Selfopofferende liefde. Eie Seun opofferende liefde. God se liefde vir jou is so groot dat Hy Homself nie kon keer om vir jou wat aan die doodgaan was, wat verlore was, wat rondgerol het in die modder, te red van ‘n ewige dood nie.

Die vraag is nou: Wat doen ons met daardie liefde? Lewe ons ’n lewe van dankbaarheid waar ons soos die hond op en af spring en nie sy vreugde dansies kan beteuel nie? Of leef ons nog soos straatbrakke in die strate van die wêreld?

Dalk moet ons op ’n klip gaan sit en toelaat dat God, ons hemelse Pa, se liefde ons deurdring. Laat toe dat die Heilige Gees jou hart warm maak vir die oorvloeiende liefde wat God vir ons straatbrakke het. Gaan lewe dan ’n bokspring-van-vreugde lewe, dans en maak mooi orals waar jy gaan.

Teks
1 Petrus 2:9-12

Om oor na te dink
Wat doen jy met God se liefde?
Lewe jy ’n lewe van dankbaarheid waar jy soos die hond op en af spring en nie sy vreugde dansies kan beteuel nie?
Of leef ons nog soos straatbrakke in die strate van die wêreld?

Gebed
Vader, ek verbly my in U liefde. Dit borrel in my! Mag ek vandag U liefde gaan uitleef en ’n verskil maak orals waar ek gaan. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek