God se Woord in vandag se woorde

Op pad na die klipstapel


Ek klim graag in ander mense se skoene, net om hulle ervarings en hul harte beter te verstaan.

Abraham en Sara se skoene is egter so-effe te groot vir my. Hoe groot moes hulle glimlagte gewees het toe Sara vir Abraham op ’n ouderdom van ’n ronde honderd vertel dat sy swanger is! Nee, eintlik het hy seker eers gedink sy trek sy been en toe die skok toe dit insink.

’n Wonderwerk!

Ek kan my net voorstel hoe hoog die vreugdevure moes brand. Hoe moes hulle twee nie keer dat hulle die geskenk van God nie voortrek en oppiep nie, maar toelaat dat hy soos ’n gewone kind oor die aarde moes ploeg.

En toe nog ’n groter skok toe die opdrag kom dat Isak geoffer moet word. Soos ’n lam keel afgesny word om op ’n klipstapel gebrand te word. Daardie lam gevoel het oor hulle gesak, die vraagtekens net te veel om self te dra.

Te midde van die klomp vraagtekens wat Abraham agter hom aansleep, het hy tog gegaan. Hy het nie alles verstaan nie. Hy kon nie glo dat God met soveel liefde gegee het, ’n wonderwerk, en nou net weer so neem nie.

Tog beur hy voort. Tog bly hy glo. Tog bly hy vertrou dat daar êrens langs die pad uitkoms gaan wees. En daar was! Dankie tog vir die ram wat vasgesit het. Dankie tog vir nog ’n wonderwerk!

Terwyl ek so in die groot skoene staan en ‘n stukkie van hulle lewe beleef, wonder ek of ek dit sou regkry? Sou ek die wonderkind kon neem om geoffer te word? Sou ek my drome daar in ’n drom kon druk?

Jy sien, so iets is net moontlik as ’n mens in ’n verhouding met God staan. ’n Mens kan net oorgee en God se water oor God se akker laat loop as daar ’n werklike intieme vertrouensverhouding bestaan. Sonder so ’n verhouding sou Abraham nie eers sy voet by die deur uitgesit het om die mense bymekaar te maak om na die klipstapel te gaan nie.

22By hom (Abraham) kan ons mooi sien hoe die verhouding met God en die gehoorsame lewe vir God eintlik saamwerk. Dit is soos twee kante van dieselfde munt. Eers as iemand vir God lewe, is sy verhouding met God soos dit behoort te wees.

Ek vermoed nie God sal van ons verwag om so iets groot te doen om ons kind te gaan offer nie. Tog is daar dinge in ons elkeen se lewe wat God wil hê ons moet doen en nie doen nie. Sommige daarvan moeiliker as ander.

Dis slegs binne ’n intieme verhouding met God, waar ons ons goedjies kan pak en na die spreekwoordelike klipstapel kan beur. Is jou verhouding met God intiem genoeg om dit te doen?

Teks
Jakobus 2:14-26

Om oor na te dink
Hoe lyk jou verhouding met God?
Is dit intiem genoeg om enige iets op te offer?
Wat moet jy dalk juis nou gaan offer?

Gebed
Vader, ek is bang dat die skoene te groot is. Ek is bang dat ek nie sal opstaan en na die klipstapel sal beur nie. Help my om nog ’n meer intieme verhouding met U te hê, sodat ek sal kan doen wat U van my vra. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek