God se Woord in vandag se woorde

Pitte wat spat


’n Paar jaar gelede maak hier ’n pragtige vrugte- en groentewinkel op die dorp oop. Pragtig man, met sulke lekker vars brode en onweerstaanbare pies. Ek stap sommer elke oggend na ’n sweetsessie by die gim daar in en vergaap my aan die pragtige kleure en kraakvars geure.

Maar iets werk nie lekker nie. Die vrugte en groente hou nie. Dit help nie jy koop die spesiale aanbieding van drie vir die prys van een nie, want as jy môre nommer twee wil eet, is dit pap of af. Dan gooi jy maar nommer twee en drie in die drom.

Ek het later gaan praat en vir die eienaar gesê hulle kan die monopolie hier vat met hulle winkel. Almal stap daar verby, maar nee, dit lyk my hulle koop die vrugte en groente by die mark wat alreeds afgemerk is, omdat dit te na aan hul vervaldatum is.

Dit help nie jy het vrugte op die rak, maar ’n mens kan dit nie gebruik nie.

Die Bybel praat ook van vrug dra. Ons as kinders van die Vader moet lekker soetsappige vrugte in die wêreld dra vir die mense wat sukkel om te oorleef en van die geestelike honger aan die doodgaan is.

Die klem lê op goeie vrugte. Hoe gaan mense wat in die woestyn is en op hulle laaste is, voel as ons daar met vrugte aankom wat eintlik al verval het en nie meer geëet kan word nie?

Ek dink nou aan my pa se bonsaiboompies. Die idee van ’n bonsai is om dit klein te hou, maar te laat lyk soos ’n groot boom. Hy het al sy bome van saadjies gekweek en binne ’n paar jaar het die klein boompie net soos ’n groot een gelyk.

Hy het met ’n klomp soorte geëksperimenteer. Die maklikste een was die Olea africana, maar ek het die meeste gehou van die Ficus natalensis, want hy het dit oor ’n klip laat groei wat die klein boompie laat lyk het soos ’n groot boom wat deur ’n rots opgekom het.

Hy het ook een keer ’n granaatboom van saad af gegroei. Dit was ook ’n mooi een, maar groot was ons verbasing toe dit een keer een vrug dra. So ’n klein granaatjie, maar ongelukkig was daar nie pitte in nie en het dit geen waarde vir enige iemand gehad nie.

Ons moet mooi vrugte dra. Ons moet kraakvars vrugte dra. Ons moet vrugte dra wat mense kan voed en kan deurhelp en hulle lewenshonger kan stil. Ons moet vrugte dra wat ’n verskil in die wêreld maak en die mense wat geestelik dood is, voed. Ons vrugte moet pitte inhê wat mense help om vir ewig te lewe.

Dit is deel van wysheid: 17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte …

Teks
Jakobus 3:13-18

Om oor na te dink
Dra jy vrug?
Hoe lyk hulle?
Waar moet jy gaan uitdeel?

Gebed
Vader, ek weet ek moet vrug dra, goeie kraakvars vrugte met lekker pitte. Help my om te sorg dat die vrug op my dade goed is en ’n werklike verskil in U Koninkryk maak. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek