God se Woord in vandag se woorde

Pos hom vir ’n ses


Ek het ’n vriend daar in die suide van Johannesburg. Ek geniet altyd sy e-posse, want hy noem ’n graaf ’n graaf. Selfs wanneer die uitdagings hulle een na die ander tref, staan hy onwrikbaar vas in sy geloof:

Wat maak jy gewoonlik as die swaar jou tref? My vriend vertel:

  1. Oktober – my jongste laaitie maak ‘n Quantum Sesfikile korter van agter met sy Golf en sy kar word afgeskryf. Nou moet Pa en middel Boeta ‘n nuwe ambag begin – Panelbeating.
  2. September – middel Boeta strike voedselvergiftiging met die gevolg dat ons deur maandeinde gaan met net 3 weke se inkomste.
  3. November – Ouboet bel om ons mee te deel: Sy slap baas en dié se seun uit Australia (’n ateïs) het hom ge-fire. Hulle het nou een keer te veel opgelet dat hy nie saamstem met hulle wheeling and dealing.

Man, lekker op ge-line is die wêreld se dinge wat bly kom en kom en kom …

Nou sal die mense my mos wil troos met woorde soos: “Die duiwel is los,” sê my vriend, maar ek sê jou – dis pure nonsens.

Ek het ja gesê vir Jesus.

• Hy het vir my ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gegee.
• Hy lewe in my deur Sy Heilige Gees.
• Hy is hoeka deel van my en ek van Hom.
• Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan is my deel.
• Wat die opponent nl. Satan betref … Hy is by die Kruis oorwin.

Wat gaan gebeur met die 3 issues hierbo, vra ek hom toe.

  1. Die versekering moet maar die Sesfikile uit-sort. Ons gaan die kar regmaak. En die laaitie moet maar ‘n afbetaal skema met sy boetie onderhandel.
  2. My middelste seun is gesond en dié maand het die besigheid goed gedoen. Alle agterstallige skuld is uitgewis.
  3. Die oudste laaitie moet ons bly bemoedig. Ons gee die Here se raad soos die Heilige Gees ons wys.

Dis vir my wonderlik hoe my vriend die curveballs een vir een pos vir ’n ses. Hy gebruik sy geloof in God en in Jesus met die hulp van die Heilige Gees as sy basis en vertrekpunt. Hy sit nie en moan en begin vrae vra soos: Nou hoekom dit nou weer, Here? of “Hoekom ek nou weer, Here?” nie.

Nee, hy trek eers sy fondasie nader en bou daarop. Hy maak vrede met die feit dat hy nie as kind van die Here ’n binnebaan het nie en dan begin hy planne maak om die probleme om te draai in geleenthede.

6Dit kan gebeur dat daar in julle alledaagse lewe dinge gebeur wat nie vir julle lekker is nie en 7wat julle geloof op allerhande maniere toets. Moenie dat dit julle van stryk bring nie.

Hierdie kry my vriend 100% reg. Dis ’n voorbeeld vir ons en ja, ons moet dit ook probeer doen. Dis al hoe ons te midde van die stryd op aarde werklik vrede kan ervaar.

Teks
1 Petrus 1:6-9

Om oor na te dink
Hoe lyk jou curveballs?
Wat maak jy met hulle?
Hoe kan jy ontslae raak van hulle?

Gebed
Vader, ek kry swaar met al die balle wat so rondvlieg. Help my om elkeen te pos. Help my om vas te hou aan U en nie in te gee nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek