Potensiaal om ’n lewe te verander
As kinders het ons ’n liedjie gesing vir ons maatjies as hulle lelik was: “Jealousy makes you nasty! Jealousy makes you nasty!” Dit het die ander een natuurlik glad nie goed gevat nie en gou het ons balle gerol.
Maar eintlik is die liedjie so waar. Jaloesie maak ’n mens nie ’n lekker mens nie. Dit kom al van kleins af. Dit lyk my hierdie eienskap het ons almal by die sondeval gratis ontvang. Neem nou maar twee babas wat sit en speel. As die een die ander een se speelding wil hê, kruip hy eenvoudig nader en vat dit. Dit dryf die ander een tot woeste trane.
As ek jaloers is op iemand anders se goeters, raak ek ongelukkig omdat ek dit nie ook het nie. Die ongeluk skakel ’n ongelukkige emosie by my aan. Hierdie emosie kom staan tussen my en die ander persoon en ’n donker wolk trek oor ons verhouding.
Soos kanker vreet jaloesie aan ons verhouding en kort voor lank is die omstandighede so onlekker dat dit uitmekaarspat. Dis wat jaloesie doen. Dit skeur verhoudings uitmekaar. Jaloesie veroorsaak stress, verhoog bloeddruk en kan jou hart vinniger laat klop. Alles negatief!
Petrus is in die kol as hy sê: 1… Jaloesie bring julle niks in die sak nie, en om sleg te praat van ander nog minder.
Hierdie is alles karaktereienskappe wat ons met geboorte (as gevolg van die sondeval) ontvang het. By sommige in ’n meerdere mate as ander. Ons moet besef dat dit ons default is en ons moet iets daaraan doen.
Ons kan nie net sê dit is hoe ons gemaak is en dit so laat staan nie. Ons moet planne maak om dit met wortel en tak uit te roei. Dalk moet ons vir onsself ’n eenvoudige reël skep en sê as ek nie iets mooi van iemand kan sê nie, moet ek liewer niks sê nie.
Wat help dit nou om ander sleg te sê? Dalk het ek ontslae geraak van negatiewe emosies, maar nou het ons dit net oorgedra na iemand anders toe. Hier is geen wenners nie.
Kom ons wees eerder bly vir ander wat meer as ons het. Kom ons deel in hulle vreugde oor dit wat hulle ontvang het. Kom ons doen dit eerlik, want dan skei ons goeie hormone af en voel ons beter.
Kom ons probeer altyd ’n negatiewe situasie om te draai in ’n positiewe ervaring. Kom ons kyk wat ons kan leer en wat ons kan doen om die situasie te verander. Dan wen jy en die ander persoon.
Pieter stuur in 2013 vir my hierdie merkwaardige sinnetjie:
Ons onderskat dikwels die krag van ‘n aanraking, ‘n glimlag, ‘n vriendelike woord, ‘n oor wat luister, ‘n eerlike kompliment of die kleinste deernisvolle daad, almal met die potensiaal om ‘n lewe om te keer.
Jy het die potensiaal in jou om nie jaloers te wees nie, maar bly te wees saam met ander. Jy kan ook jou woorde mooi vorm en so ’n verskil maak in ander mense se lewens. Kom ons draai die default om. Ek weet dis moeite en nie maklik nie, maar die potensiaal is daar om ’n lewe te verander!
Teks
1 Petrus 2:1-8
Om oor na te dink
Waar glip jy met jaloers wees?
Waar glip jy met verkeerde woorde?
Hoe kan jy dit verander na goeie potensiaal?
Gebed
Vader, ek moet bieg, ek sukkel baie keer hiermee. Help my om planne te maak om dit om te draai in positiewe energie, sodat ek eerder ’n verskil kan maak. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.