Practice what they preach
’n Vriend vertel my die storie van Pieter, Hennie en Susan. (Skuilname)
Pieter het moeilik grootgeword. Hy het sy pa vroeg verloor, nie ’n goeie verhouding met sy veel ouer moeder gehad nie en eintlik geen kontak met sy enigste suster nie. Terwyl al die verhoudings eintlik nie bestaan het nie, maak hy met verkeerde mense vriende.
As bendelid word hy gevang waar hulle ’n vragmotor met sigarette kaap. Hy kry 18 jaar gevangenskap en word na Victor Verster gevangenis oorgeplaas. Dis hier waar hy hom vasloop in Hennie.
Hennie is ’n tronkbewaarder en ’n toegewyde kind van die Here. Hy sien die potensiaal in Pieter en moedig hom aan om te begin studeer.
In die volgende 10 jaar neem Pieter Jesus aan as sy Verlosser, doen vele Bybelstudie- en pastoorskursusse. Hy ontvang twee finansiële grade by Unisa, nogal cum laude.
Pieter begin sy medetronkvoëls evangeliseer. Hy bied ook wiskundeklasse vir hulle aan en ontvang in 2014 ’n sertifikaat van die onderwysdepartement vir die onderwyser met die beste wiskunderesultate in Graad 12.
Na Pieter se ontslag uit die gevangenis het hy begin werk by ’n ouditeursfirma.
Wat ’n feel good–storie. Maar eintlik hou dit nie daar op nie. Daar was nog ‘n party in die storie – Susan. Iemand moes Pieter se studies finansier en sy het daarvoor handopgesteek.
Die merkwaardigste van alles is dat die vragmotor wat Pieter en sy makkers gekaap het, juis aan Susan se maatskappy behoort het.
Hennie het met sagte oë na die manne wat hy moes oppas, gekyk. Hy het nie die redes waarom hulle in die tronk was, raakgesien nie, maar eerder hul waarde in Jesus. Dis juis dan wat jy ander se potensiaal kan raaksien.
Susan verstaan genade, omdat sy so baie van Bo ontvang en deel dit graag op verskillende manier uit aan mense rondom haar. Sy kan nie anders as om te deel en te gee nie, al het dieselfde persoon van haar gesteel.
Nadat Pieter omgedop en tot bekering gekom het, verloop sy lewe heeltemal anders. Sy verlossing dring hom en hy moet dit deel met almal om hom.
Die lewens van al drie die karakters in die ware verhaal, vertel een storie: ek is ’n kind van God. Hulle dade wys: Ek behoort aan God se familie. Hul dade is in lyn met hul geloof. Hulle practice what they preach. En hulle is vir seker nie deel van die volgende groep mense nie:
6 … As ons rondvertel dat ons deel van God se intieme familie is, maar ons dade verklap die teenoorgestelde, wat maak dit van ons? Dit maak van ons skaamtelose leuenaars! Dit is soos mense wat sê hulle hou net van die lig, maar as jy hulle soek, sit hulle in die donker. So weerspieël ons mos nie die waarheid en egtheid wat eie aan ’n kind van God die Almagtige is nie.
Laat ons seker maak dat ons nie deel is van die groep nie, maar soos Pieter, Hennie en Susan, uitleef wat ons glo.
Teks
1 Johannes 1:5-10
Om oor na te dink
Hoe lyk jou familiebande?
Hoe lyk jou dade?
Staan hulle in lyn?
Gebed
Vader, dankie dat ek ‘n kind van U genoem mag word en deel is van U koninklike familie. Ek het U hulp nodig om my dade in lyn te kry. Amen.