Probleem? Bid vir geloof.
Ons het teen die tyd nou al mooi agtergekom dat Paulus-hulle baie swaar gekry het hier waar hulle vir die eerste keer die nuus van Jesus Christus moes bring. Dit was glad nie vir hulle maklik nie, maar hulle het tot God gebid om hulle te help. En God het hulle ook gehelp deur hulle geloof sterk te maak. 2… Ongelowige mense het ons daar verskriklik sleggesê en mishandel, maar dit het ons glad nie ondergekry nie. God het ons geloof sterk gemaak. Daarom was ons nie bang om na hulle toe te gaan nie. Tog was dit nie so maklik om die goeie nuus in julle stad te preek nie. Die mense het ons baie swaar laat leef.
God se hulp was om hulle geloof te versterk en nie die wegneem van die omstandighede nie. Hoeveel maal bid ons nie en vra vir God om die beker weg te neem om die omstandighede waarin ek my bevind, weg te neem of te verbeter nie?
Paulus vra nie hiervoor nie, want sy insig en wysheid neem hom op ’n ander pad en hy weet dat God dit op Sy manier só sal hanteer dat almal daarby baat sal vind. Wat was die gevolg hiervan? Hulle was nie meer bang nie.
Met ’n sterk geloof kon Paulus-hulle deur die probleem sien. Die probleem is nie weg nie, maar hulle het geglo dat die probleem hulle nie sal oorrompel nie. God gee vir jou insig en wysheid om die blok wat voor in jou pad lê te verstaan en dit help jou om dit dienooreenkomstig te hanteer.
Partymaal is die obstruksie in ons pad so groot dat ons glo ons sal nooit daaroor kan kom nie. Dit bring vir ons spanning en alles word net te veel. Alle verhoudings ly daaronder en selfs met die huwelik gaan dit in sulke tye nie goed nie. En dit is presies wat die duiwel wil hê.
Dit is in sulke tye waarin ons dan tot God moet bid. Moenie vra dat God die obstruksie uit die pad moet haal nie, maar vra eerder vir God om jou geloof sterk te maak. Vra vir God om vir jou wysheid en insig in die probleem te gee en hoe Hy wil hê jy moet dit hanteer. Vra vir God om jou te wys hoe Hy die probleem gaan gebruik om jou te bou en hoe die probleem ook vir jou kan help om te groei. Met dié verstaan sal jy die probleem makliker en vinniger kan hanteer. Dan sal jy nie bang wees om elke dag op te staan en die lewe voluit te leef nie.
Tog sal dit dan nie ewe skielik klopdisselboom en voor die wind gaan nie. Dit is baie keer hoekom mense mismoedig word en nie kans sien om in die oggend op te staan nie. Self Paulus sê, nadat God hulle geloof versterk het en hulle alles verstaan het, dat dit steeds vir hulle moeilik was en dat hulle steeds swaar getrek het. Weet dus dat al het God jou geloof versterk en al verstaan jy die doel van jou swaarkry, raak dit nie sommer net makliker nie. Nee, ’n mens trek maar nog steeds swaar. Dalk verstaan jy die redes daaragter net beter!
Bid nou vir God om jou geloof te versterk. Hy sal dit doen!
Bid ook vir God om vir jou wysheid en insig te gee. Hy sal dit doen!
Bid ook vir God om by jou te wees in jou swaar. Hy sal dit doen!
Teks
Om oor na te dink
Werk gebed nog vandag?
Hoor God nog ons gebede?
Waarvoor moet jy nou bid?
Gebed
Vader, versterk my geloof dat die swaarkry my nie onderkry nie. Soos U vir Paulus-hulle gehelp het, help my ook, asseblief. Amen.