Raak nét aan my tjommie, dan …
Ek en my pelle van hoërskool is steeds goeie vriende. Vier van ons bly in dieselfde area. Een is in Australië, maar as hy hier is, kuier ons omtrent elke aand saam. Dit is ongelooflik om die hegte band tussen ons te beleef. Al het ons mekaar lanklaas gesien, tel ons die drade vinnig op, so asof ons mekaar gister laas gesien het.
In hierdie groep voel almal veilig. Ons sal enige iets vir mekaar doen. As iemand in die groep bedreig word, kan jy maar weet: die ander sal opstaan. Die meeste van ons het omtrent almal in grootte verdubbel, so niemand sal sommer moeilikheid soek nie.
Ek dink aan ons groep toe ek die volgende teks lees: 6God tree altyd reg op. Daarom sal Hy met al daardie mense afreken wat julle nou so swaar laat kry. Laat dit aan Hom oor.
Amper soos ons groep hoërskoolvriende wat vir mekaar uitkyk. Ja, ons was baie kere lekker stout en het nie altyd reg opgetree nie, maar ons sou en het wel afgereken met ouens wat met ons skoor gesoek het, veral as een van ons onregverdig tenagekom is. Dalk nie altyd met die regte metodiek nie, maar een motto is uitgeleef: Raak net aan my tjommie, dan is daar moeilikheid.
Hoeveel te meer sal God ook vir ons teen ander beskerm. God is regverdig en verdra nie onreg nie. God hou nie daarvan dat mense ander onregverdig behandel en dat mense swaarkry onder die druk nie. God sal hulle uitsorteer. Sommige in hierdie lewe, sommige dalk eers later, maar God sal dit doen.
Kyk hoe mooi sê Dawid dit in Psalm 12:8 Here, U sal ons teen die slegte mense van ons dag beskerm, 9selfs al loop hulle oral rond en spog; selfs al is almal rondom ons propvol slegte dinge. En ek sien hoe die mense met hulle duur klere rondstap en maak asof hulle die grootste neut in die pakkie is. Windmakerig stap hulle en sonder om te blik of te bloos, word ander uit die pad gestamp. Maar boetie, jou dag is een van die dae getel, want God sal ons beskerm. Hy verduur nie jou manier van op mense trap nie.
Mense wat onregverdig behandel word, is nie God se idee nie. En as ek so oor ons mens se geskiedenis loer, is daar baie plekke waar ons voorvaders ’n hand hierin gehad het. Baie keer sonder dat hulle daarvan geweet het. Ander het weer ’n blinde oog gegooi. Dit maak dit egter nie reg nie. God haat dit wanneer Sy kinders nie reg hanteer word nie.
Laat ons daaruit leer. Laat ons seker maak dat ons geen persoon onregverdig behandel nie. Maar meer nog. Ons moet opstaan vir die mense wat verontreg word. Soms weet hulle eenvoudig net nie hoe om daar uit te kom nie. Dan is dit juis ons taak om hulle te help en rigting te gee.
Soos Caren (skuilnaam) oor haar man:
“Hy bly met sy houvrou en onderhou nie sy kind nie. Hy onderhou wel die houvrou, haar kinders en kleinkinders. Hy en die vrou dobbel en drink saam.
Hy kom trek toe sommer net weer by my in toe hulle hul huurhuis verloor. Nou trek hy naweke by die vrou in, maar Maandagaande kom hy weer terug.”
Caren gaan voort en sê: “Ai, die vernederings wat ek en my kind elke dag moet deurmaak.”
Caren se man mors. Ek weet watter voorstel jy wil maak, maar miskien moet ons eers terugstaan en kyk watter onreg is daar in ons eie wêreld. Laat ons soos my tjommies saam opstaan en mense help wat deur ander onregverdig behandel word. Laat ons vir ’n slag ons hande vuil maak en reg en geregtigheid in God se nuwe wêreld laat seëvier.
Teks
Dink bietjie hieroor
Waar is onreg?
Doen jy iets daaraan?
Wat kan jy doen?
Gebed
Vader, onregverdigheid gaan nooit ongemerk by U verby nie. Help my om daarop te reageer soos U graag wil hê ek moet. Amen.