Reaksie op aksie
Ons het ’n glas skuifdeur wat uitloop op die stoep. Aan die ander kant van die stoep is my studeerkamer, ook met ’n glas skuifdeur. Renata put baie genot daaruit dat die glasdeure altyd moet skitter.
Ek weet hulle is daar en maak altyd met my hand seker dat hulle oop is voor ek deurloop, want met die blote oog sien ’n mens nie sommer die stuk glas raak nie. Maar soms is ’n mens in gedagte.
Kadwarrr!, loop ek dan, gewoonlik met my neus eerste in die deur vas. Die pyn skiet in mens se kop op. En dadelik is jy kwaad. Kwaad omdat jou neus seergekry het. Kwaad omdat iemand dalk gesien het jy slaan jou naam met ’n plank.
En dan moet iemand mos die skuld kry. “Hoekom maak julle die skuifdeure so skoon?!” en daarna volg ’n stortvloed van woorde.
Dis nie reg nie. Ek weet dit, maar dis asof ek dit nie eintlik kan keer nie. Ek vermoed dis menslik. As ons seerkry of as iets aan ons gedoen word, soek ons die handskoene. Dan wil ons, soos die Engelsman sê, retaliate.
Ja, ons sal dalk nie iemand te lyf gaan nie, want dis darem nie ons styl nie, maar sjoe, baie keer moet daardie persoon dit teen die oor kry. Hy moet presies verstaan watter seer of ongemak hy of sy ons aangedoen het.
Ek wonder of dit enige verskil in die ander persoon se optrede in die toekoms gaan verander? Dalk kry die persoon lekker omdat ons so afgaan.
Eendag kom ons via Beitbrug uit Zimbabwe terug Suid-Afrika toe. Gewoonlik is dit ’n baie lang affêre, maar die keer is ons alleen by die toonbanke. In ’n rekordtyd gaan ons aan Zimbabwe se kant deur.
Ons is op die brug oor die rivier, amper aan die Suid-Afrikaanse kant, toe ’n abnormale vrag indruk en van voor af kom. Al die voertuie moet terugstoot, want daar is nie plek vir die abnormale vrag en enige ander voertuig op die brug nie.
Die arme vragmotors met die dubbele waens sukkel om terug te stoot. Dit neem omtrent ’n halfuur vir al die voertuie om terug te stoot. Toe die abnormale vrag oor is, stap een van die drywers, duidelik heel boos, na die bestuurder en gee hom ’n klomp woorde teen die oor.
Dis hoe ons is. Wanneer daar ’n aksie teen ons is, is daar ’n reaksie van ons kant af. Maar omdat dit menslik is, is dit nie noodwendig reg nie. Inteendeel.
Jesus was nie so nie. Toe Hy gevange geneem is, was Sy reaksie om gedwee saam te stap. En die mens se reaksie? Petrus ruk sy swaard uit en kap ’n oor af.
Al beskuldig hulle Hom valslik, al gooi hulle Hom in ’n tronk, al spoeg hulle op Hom, al slaan hulle Hom met ’n sweep met klippies dat die bloed loop, al druk hulle ’n doringkroon deur Sy kopvel, selfs al slaan hulle spykers deur Sy hande en voete, kom Hy nie in opstand nie. Hy skree nie. Hy vloek nie, Hy doen net wat God van Hom verwag.
23Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur.
Teks
1 Petrus 2:22-25
Om oor na te dink
Wat is jou reaksie as iemand jou te na kom?
Is dit wat God wil hê?
Hoe moet jy dalk anders optree?
Gebed
Jesus, U is so ’n goeie voorbeeld van die regte reaksie in elke situasie. Ek wil ook so optree, maar het die hulp van U Heilige Gees nodig. Amen.