Roof van pyn
Wanneer ander mense iets aan jou gedoen het, is dit nie maklik om sommer net te vergewe en te maak en te leef asof niks gebeur het nie. As iemand jou te na gekom het, is vergifnis nie noodwendig op jou doen-lysie nie. Inteendeel.
Ek vermoed dit is een van die groot redes waarom Paulus die brief aan Filemon skryf. Hy wil hê Filemon moet sy slaaf wat hom erg te na gekom het, terugvat. Maar om dit reg te kry, moet hy eers in die stegie van vergifnis stap. Dis nie so maklik nie.
17Filemon, as jy my as jou vriend en medestryder in die evangelie beskou, moet jy Onesimus ook as jou vriend beskou. Ontvang hom presies net soos jy my sou ontvang.
Onesimus het erg verkeerd gedoen. Ons weet nie presies wat hy alles aangevang het nie, maar wat ons uit die brief kan agterkom, het hy nie net van sy baas gedros nie, maar ook by hom gesteel.
Onesimus het opgeëindig waar sulke ouens maar een of ander tyd beland – in die tronk. Hier ontmoet hy vir Paulus en word hy begelei om sy hart vir die Here te gee. God dop hom om en vergewe al sy sondes. Onesimus is ’n nuwe mens.
Nou lê die sak patats voor Filemon. En is dit nie gewoonlik hoe dit in die lewe gaan nie? Die verontregte, die een wat nie verkeerd is nie, sit nou met die swaar gedeelte: hy moet nou die een wat verkeerd was, vergewe.
Hoeveel keer hoor ’n mens van ’n eggenoot wat oor die draad geloer en geklim het, wat terugkeer om vergifnis te vra? Nou staan die een wat so woes seergekry het en verneder is, met kanne vol trane en ’n berg van vergifnis voor hom of haar.
Dis nie maklik nie. Dis ’n moeilike pad waar ’n mens ’n stuk van jouself moet afskeur. Vergelding en terugkry moet uit jou woordeskat verdwyn en vertroue en hoop moet herstel word.
Soms is dit net te veel gevra.
Paulus vermoed, dalk uit ondervinding, dat dit moeilik gaan wees vir Filemon om sy droster-dief-slaaf te vergewe en terug te vat. Daarom vra hy mooi om hom as ’n vriend en nie meer as ’n slaaf te sien nie. Hy is nou ’n broer in Christus en wie sal nou sy broer die deur wys?
Die pyn wat ander se misdade veroorsaak, is dikwels onbeskryflik seer. Dit neem baie tyd om te genees. Soms, nee eintlik die meeste van die kere, genees dit nooit heeltemal nie en bly daar maar altyd ’n roof wat gedurig oopgaan.
Dalk het jy so ’n roof. Dalk kan jy net nie afdraai om deur die stegie van vergifnis te stap nie. Sonder om te gou te wil praat, wil ek jou tog vra om by ons Vader se voete te gaan sit en toe te laat dat Hy met Sy Heilige Gees jou help om af te draai en Jesus se vergifnis-paadjie te stap.
So word jy ook verlos van ’n swaar stuk bagasie en kan vreugde weer aan jou deur kom klop.
Teks
Filemon 1:15-20
Om oor na te dink
Waar is jou pyn?
Waar haak jy met vergifnis?
Hoe moet jy anders maak?
Gebed
Here, vergewe is nie maklik nie. Dis eintlik onmoontlik vir my om te vergewe en te vergeet soos U my geleer het en ook van my verwag. Ek weet dis net moontlik as U my hiermee sal help, asseblief Here. Ek wil so graag U voorbeeld volg en vergewe soos U my elke dag vergewe. Amen.