God se Woord in vandag se woorde

Saam in die span


5Die goeie nuus oor Christus wat ons daar by julle gepreek het, was nie maar net ’n klompie mooi woorde nie. Nee, die Heilige Gees het ons prediking kragtig in julle lewens gebruik.

Ek en my span word genooi om vir ’n week lank elke oggend ’n boodskap te bring by ’n Laerskool in die Strand. By elke geleentheid is ’n lied van Nicholis Louw gespeel en saam met liedjies soos Vergeet en vergewe, Net vir jou, Emmers vol liefde en Energie, wat kliphard oor die luidsprekers gedonder het, het ons God se Boodskap op hulle ore laat val.

Ons het egter ook videomateriaal en ’n hordes prentjies op die groot skerm gewys wat hulle soms laat lag het en soms hulle oë laat toemaak het van skok. Hulle het ook soms op en af gespring en op stoele gestaan. Ek het regtig my bes probeer om hulle aandag te behou, maar toe raak ek onseker. Werk dit regtig? Het dit ’n verskil gemaak? Is daar een kind wat ’n verskil in ’n ander se lewe gemaak het? Het die groot boodskap regtig tot hierdie graad een tot sewes deurgedring?

Soos gewoonlik met sulke dinge val die onsekerheid ’n mens plat. Maar gelukkig is ons God getrou en kom ruk Hy die onsekerheid uit my hart, want hier wys Hy dat selfs die wonderlike Paulus ook net tot op ’n punt iets kon doen. Daarna was dit die werk van die Heilige Gees. Prys sy Naam! Paulus het vertel van Christus.

Die Heilige Gees het dit wat hy vertel het, gebruik om kragtig in die mense se lewens te werk. Daarom weet ek ook nou dat die Heilige Gees my woorde van hoor, voel en sien kragtig in die kinders gebruik. My verantwoordelikheid hou een of ander tyd op en dit is net daar waar die Heilige Gees oorneem.

Ek dink tog dat God ons soms gebruik om saad te saai sodat die Heilige Gees in ander kan werk. Ja, God kan met ’n wonderwerk in iemand ’n klomp goed losskiet en die persoon kan ’n wonderbaarlike ommeswaai maak. Ek dink God hou daarvan om in ’n span saam met ons in ander mense se lewens te werk.

Hoe speel jy in die span of is jy dalk nog ’n reserwe op die bank? Watter bydrae maak jy tot die sukses van die span?

Sjoe, ons het die beste spanlede wat daar kan wees en die opposisie is eintlik klaar oorwin. Ons moet net deurdraf en die punte gaan aanteken.

Ja, maar ek hou nie daarvan om met my christenskap op my mou rond te loop of ’n ou voor sy bors te gryp en by hom te hoor wat is sy storie met die Here nie. Dis nie nodig as dit nie jou roeping is nie.

Leef net sonder om skaam te wees vir die Here. Daar word mos gesê: Vertel ander van die Here en indien nodig, gebruik woorde. Die Heilige Gees sal die res doen. Daaroor hoef jy nie bekommerd te wees nie. 5… Hyself het julle oortuig om in Christus te glo.

Ai, my vriend. Daar is so baie mense wat op pad is na die ewige vuur en jy kan dit voorkom. Onthou: Jy het ongelooflike spanlede en hulle sal die werk doen. Jy moet net die bal vir die ander ou aangee!

Doen dit nou!

Teks
1 Tessalonisense 1:2-5

Om oor na te dink
Hoe dink jy moet jy die boodskap daar buite kry?
Waar moet jy begin?
Waar moet die Heilige Gees ekstra krag vir jou gee?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat dit nie altyd vanself kom om U boodskap daar buite uit te dra nie. Ek weet ek is nie alleen nie en dat U Heilige Gees my hand sal neem. Help my om my hand in U hand te plaas en dat ons saam ’n groot verskil daar buite kan maak. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek