Sal jy jou baadjie weggee?
Jakobus se goue draad van doen, is nog lank nie klaar nie. Hy gaan die spyker nog ’n paar keer indryf. Ek vermoed hy doen dit omdat ons so maklik verval in ons ou manier van doen en dan sien ’n mens nie ons geloof raak nie.
Ek sien nogal Chris se geloof heel goed raak in hierdie storie:
Jare gelede gee iemand my gedeelte van ‘n maatskappytjie gratis, solank ek dit namens hulle bestuur. Dit was so 150km van my huis af en ek kon net naweke huis toe gaan.
Die eerste oggend vroeg in Meimaand, kom ek daar aan. Al die werkers staan voor die deur vir my en wag. Een van hulle het net ‘n hemp aan en dis erg koud. Dadelik kry ek die gevoel ek moet my windbrekerbaadjie vir hom gee.
Hy het oorgeloop van dankbaarheid.
Soos dit hulle gewoonte was, begin ons die dag met ‘n gebed. Elke oggend daarna bid ek vir die klompie, totdat hulle een oggend vir my sê dat hulle gewoonlik beurte maak om ook te bid.
So gesê, so gedoen. Net ou Isaac bid nie. Ek vermoed hy weet, maar glo nie.
Ek begin toe elke oggend, met die leiding van die Heilige Gees, ‘n versie lees en dan ‘n paar woorde daaroor sê.
Min het ek geweet hoe groot invloed daardie klein gebaar op Isaac sou hê.
So ‘n maand of wat later vra hy my of ek nie ‘n spaar Bybel by die huis het nie. Hy en sy vrou wil saans die versie lees en daaroor praat.
Kakebeen op die grond en met trane in my oë, beloof ek ‘n Bybel.
Ek koop die Sondag ‘n Pedi Bybel by die kerk en gee dit die Maandag vir Isaac.
Soms het klein goedjies groot resultate.
Ek is nou al sewe jaar daar weg, op pensioen, maar glo Isaac en sy vrou vind steeds genot in hul verhouding met God.
Ek het nog nooit my baadjie uitgetrek en vir iemand gegee nie, maar Chris het, want Hy was sensitief vir die Heilige Gees. Op sy krom manier het hy net ’n stukkie uit die Bybel gelees en sy verstaan op sy manier aan die manne oorgedra.
Die impak was reusagtig.
Dis geloof wat loop. Dis geloof wat ’n verskil maak. Dis ware geloof.
18 Kan jy vir my bewys dat jy in die regte verhouding met God staan sonder dat jy enigiets vir Hom doen? Ek twyfel. Maar, ek is in alle geval seker dat ek vir jou sal kan bewys dat met alles wat ek vir God doen, ek in ’n goeie verhouding met Hom staan.
Chris is vir seker ’n bewys van laasgenoemde.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Hoe lyk jou geloof?
Hoe lyk jou dade?
Loop hulle in lyn?
Gebed
Vader, dankie dat ek in U mag glo. Dankie vir wat U alles vir my doen. Help my dat my doen ook in lyn kom met my geloof. In Jesus se Naam. Amen.