God se Woord in vandag se woorde

Sit jou koplig aan


Ek het een oggend, toe ek nog geboer het, by die deur uitgestap om die werk op die plaas aan die gang te kry. Kort daarna besef ek dat ek die stukkie wat ek vyf minute gelede in die Bybel gelees het, nie meer kan onthou nie.

Die volgende oggend het ek begin neerskryf wat ek verstaan van die teks wat ek lees, asook hoe ek dit op my eie lewe van toepassing kan maak. Hieruit het ‘n e-bediening ontstaan. Sedert 2012 is ek en Renata voltyds met Kruispad247 besig en soos hulle sê, die res is geskiedenis.

Ek het egter een probleem gehad. Ek kon nie vroeg in die oggend wakker word om my nuutgevonde roeping uit te leef nie. Ek het toe vir God gevra om my vroeg wakker te maak en Hy het!

Sommige oggende raak ek sommer 03:00 wakker en dan is ek so wakker soos ’n akker. Dit help nie ek draai om en probeer verder slaap nie. Dan staan ek op, raak stil en laat my vingers op die sleutelbord raas.

Ek glo ’n mens moet spesifiek wees wanneer jy bid. Ek moes eintlik vir ons Vader gevra het om my 05:00 of 05:30 wakker te maak, maar omdat ek nie ’n tyd bygesit het nie, is ek nou enige tyd vanaf 03:00 haaswakker.

As ek so vroeg woel, probeer ek so stil as moontlik beweeg om nie die ander in die huis te steur nie. Gewoonlik doen ek dit alles in die donker, maar keer op keer misgis ek my met die posisie van die meubels.

So loop ek myself een oggend te pletter teen die glaskas vol kosbare koppies en pierings. Nodeloos om te sê, die hele huis het wakker geskrik en niemand was beïndruk met my onbeplande manewales nie. Met die volgende Vadersdag ontvang ek ’n kopflits.

Wanneer ’n mens nie genoeg lig in die donker het nie, kan jy jouself maklik in iets vasloop. Dis logies. Só werk dit ook met ons geestelike lewe. Voordat ons Jesus as ons Verlosser ontmoet het, was ons in die donker.

Ons het dit eintlik nie eens geweet nie. Ons het gedink die lewe moet so wees. Ons geploeter in die donker was al wat ons geken nie. Maar toe kom die Lig en wys ons waar ons is en waarheen ons op pad is.

9… Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is.

As ons verkeerde dinge doen, as ons plannetjies beraam wat mense te na kom, as ons toelaat dat ons tong dinge van en vir mense sê wat hulle seermaak, ploeter ons in die donker rond.

Jesus is vir ons die grootste teken van lig. Hy het vir ons kom wys hoe lyk dade van die lig. Hy het Sy lewe neergelê vir ander mense. Hy het mense wat swaar kry se las kom verlig. Hy het die lig aangeskakel vir die mense wat in hulself en in ander vasloop en hulle gered.

Laat ons dan nou ook ons geestelike kopligte aanskakel in die wêreld. Laat ons ander mense met die lig wys en hulle help om uit die donker te kom. Laat ons elke geleentheid aangryp om ander mense na die regte pad te lei.

Teks
1 Petrus 2:9-12

Om oor na te dink
Waar is jou dade nog in die donker?
Waar kan jy jou lig skyn?
Wie plaas God op jou hart?

Gebed
Jesus, dankie dat U die lig vir ons gebring het. Dankie vir die dag wat ek gesien het hoe donker my lewe is en dat ek toe na die lig en Lig kon beweeg met die hulp van U Heilige Gees. Help my om nou ook U lig in die wêreld te skyn. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek