Skottelgoedwasser was skoon
Mense verskil. Ek werk met baie geraas. Ek sit gewoonlik musiek in die agtergrond aan, om my in die regte stemming te bring. My ma het altyd gesê ek moet asseblief my “doef-doef”-musiek sagter maak.
Renata, my beter helfte, is weer net mooi die teenoorgestelde. Sy hou van stilte. Selfs die piepklein watervalletjie reg langs my studeerkamer moet ek soms afskakel, want die “geruis” pla haar.
So kry Renata ’n geleentheid om vir ’n paar dae na die Suidkus te gaan om in stilte in die bos te gaan skryf. Sy kry dit goed reg en haar vingers raas ’n heel paar skryfsels uit die skootrekenaar se sleutelbord.
En ek is tuis opgeskeep met die gewone dagtakies. Ek is nie bang nie. Selfs vir die huurder se skottelgoed staan ek pa, want ons het mos ’n wasmasjien daarvoor. So teen die derde dag is die masjien vol gepak en ek skakel Ta aan.
Met die uitpakslag, kom ek met ‘n skok agter dat die skottelgoed nog erg vuil is. Toe onthou ek Renata se woorde dat ek eers die goed moet afspoel voor ek dit inpak. Ek onthou nog ek het toe gewonder hoekom was ’n mens dan nie sommer dit klaar in die wasbak nie? Dis amper soos dubbele werk.
Nou moet ek in ieder geval die skottelgoed oor was.
Na die volgende drie dae staan die skottelgoed weer ’n goeie hoop hoog, net reg vir die masjien om gepak te word. My oog vang die verstellingsknop en ek sien daar is ene vir goed vuil skottelgoed. Ek besluit om dit te probeer. Ek is sommer dapper en pak ook die vetterige pan en potte ook in en hou duim vas dat daar nie ’n tweede opwas moet wees nie.
Ek is sommer half gespanne toe ek die deur oopmaak na die masjien klaar gewas het. My bril raak vaal van al die stoom wat uit die masjien borrel. Soos die mis verdwyn, tel ek die bakkies een vir een op. Dit is silwerskoon! Ag man, maar ek is bly!
Toe ek die vetterige pan optel en omdraai om te inspekteer, lyk dit omtrent soos ’n nuwe een. Daar is nie ’n vuil, vetterige stukkie in die pan oor nie. Die wasmasjien het sy werk perfek gedoen.
Dit is presies wat Jesus met ons vetterige vuil kolle gedoen het. Hy het dit 100% weggewas. Soos die vers sê: 22… Ons binneste is mos silwerskoon gemaak deur die bloed van Jesus, sodat niks ons meer pla nie, en ons liggaam is met skoon water gewas.
Glo jy dit? Leef jy dit? Sien ander dit in jou lewe?
Moenie dat jou verlede jou jaag nie, want eintlik is dit reeds in die wasgoedmasjien skoon gewas of soos dit in Bybelse terme is: Jesus se bloed aan die kruis het die straf wat ons verdien, as gevolg van al die verkeerde dinge wat ons doen, skoongewas.
Glo dit! Leef dit, sodat ander Jesus se waswerk kan sien.
Teks
Hebreërs 10:19-25
Om oor na te dink
Hoe skoon is jou lewe?
Het jy dit al voor Jesus bely?
Glo en lewe jy Jesus se skoonmaak in jou lewe?
Gebed
Jesus, dankie vir die skoonmaak en was. Dankie dat ek deel kan hê daaraan. Ek glo dat dit ook genoeg is vir die hoop sonde wat ek al aangevang het. Help my om dit te gaan uitlewe en vir ander te wys wat U vir ons gedoen het. Amen.