God se Woord in vandag se woorde

Skuif agter die gordyne in jou gebed


Bid en julle sal ontvang, sê die Bybel. En dan bid ek, maar ontvang niks nie. Dan kom ek sommer in opstand en my kop begin vir my sê dat gebed nie werk nie, want kyk net, jy ontvang dan niks nie.

Op ’n volgende rondte help mense my ’n bietjie verder en sê dat as jy bid, moet jy dit in God se Naam doen. Dan sluit ek elke gebed af met: “Ek vra dit alleenlik in Jesus se Naam.” Tog bly my ontvang-boksie dolleeg.

Ek besef dat ek êrens iets nog nie regkry nie. Êrens is my gebed nog nie in lyn met hoe dit reg gedoen moet word nie.

Jakobus help my om na my gebed te kyk: 3Hoekom vra julle nie ’n slag opreg vir God nie? Julle sê dalk: “Ja, ons bid tog, maar God gee nie vir ons wat ons vra nie.” Daar is ’n goeie rede voor: julle motiewe is verkeerd. Julle vra die goed van God sodat julle dit soos stout kinders net vir julleself kan hê. Dit gaan net om julleself en om niemand anders nie.

Dis presies hoe ek partymaal voel. Ek bid en vra en ek smeek, maar ek ontvang nie. Soms wil ek my speelgoed rondgooi, soms raak ek net mismoedig en vra nie meer nie. Soms dink ek ek maak dit nie en daarom ontvang ek nie.

Maar dis nie die rede hoekom ons gebed sommige kere nie beantwoord word en ons dan nie ontvang nie. Die probleem lê by die onderliggende rede waarom ons bid. Wat is die rede waarom jy op jou knieë gesak het?

Is jy soos ’n stout kind wat die heeltyd aan jou ma se rokpant ruk en skree: Ek wil hê, ek wil hê? Gaan dit net oor jou in jou gebed? Gaan die uitkoms van die gebed net vir jou en jou behoeftes vervul?

Dan is die kans goed dat jou gebed nie beantwoord gaan word nie.

Die een vertaling sê dat ons nie ontvang nie, omdat ons met korrupte motiewe by gebed opdaag en soek net om ons eie selfsugtige begeerte te vervul.

Sjoe, hierdie aantygings is ‘n bietjie erg en ek sien myself nie heeltemal met hierdie motiewe in die sak as ek voor God in gebed kniel nie. Sekerlik ook nie jy nie. En dan wonder ek, mag ek dan enige iets vir God vra?

Ja, vir seker mag ons met gebed en smeking vir God vra, ons moet net seker maak dat die motiewe wat op die agtergrond is en die rede waarom ons bid, suiwer is. Ons moet seker maak dat dit nie heeltyd oor ek en my eie begeertes gaan nie. Ons moet seker maak dat as my gebede beantwoord word, dit ook die res van God se Koninkryk dien.

Die eerste stap is om te bid. Dan moet ons seker maak dat ons om die regte redes bid en dat dit nie oor my selfsugtige begeertes gaan nie. Ja, mag ons gebede een vir een verhoor word, omdat onsself met ons eie behoeftes eers op die agtergrond skuif en ander s’n eerste stel.

Teks
Jakobus 4:1-6

Om oor na te dink
Waar staan jy voor in jou gebed?
Watter selfsug steek soms sy kop in jou gebed uit?
Hoe kan jy dit vir eers wegpak?

Gebed
Vader, ek weet dat my gebede die meeste van die kere oor myself en my eie behoeftes gaan. Help my om my gebed meer in balans te kry en ook ruimte te maak vir ander se behoeftes. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek