God se Woord in vandag se woorde

Skyn jou lig in alle omstandighede


Die mense vir wie Petrus skryf se profiel lyk so bietjie anders as ons s’n. Die mense is baie jong Christene. Die meeste van hulle het nie ’n voorbeeld van ouers wat ’n Christelike lewe gelei het nie.

Baie van hulle is slawe en ons moet onthou dat slawe nie altyd so goed behandel is nie. Slawe was die eiendom van hul base en die base kon met hulle doen net wat hulle wil. Lang ure en onbillike verwagtinge was deel van ’n slaaf se ervaringsveld.

As die eienaars van die slawe nie saamgestem het met hul Christelike geloof nie, het hulle nog swaarder gekry. Daarom die aanmoediging: 19Wat regtig saak maak, is dat julle liewer maar hierdie onbillike optrede van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die skande gesteek word nie.

Ek kan my nie eintlik indink hoe dit is om te ly vir dit waarin jy glo nie. Ons het nog altyd in ’n land gebly waar Christelike beginsels toegepas word. Baie besighede het hulle werknemers toegelaat om die dag met Skriflesing en gebed te begin.

In die gange van die parlement is daar vrylik gepraat oor ons Christelike beginsels. By skole was daar selfs een keer per week ’n periode afgestaan vir Christelike byeenkomste en Bybelstudie.

Ongelukkig het dit alles verander. Christene het nie meer die binnebaan nie. Inteendeel, ons moet al hoe meer begin baklei vir dit waarin ons glo. Dis nie meer ’n gegewe dat almal orals vir ons geloof ruimte gaan hê nie.

Ek wonder hoe ek sal reageer indien ek onregverdig behandel word of selfs as my lewe in gevaar is as gevolg van my geloof. Al wat ek hierop kan sê, is: “So help my, God!”

Ons kan dankbaar wees dat ons nog nie soos die slawe van die Bybelse tyd behandel word nie. Dalk lê dit een of ander tyd in die pad af, maar laat ons ons nie nou al daaroor bekommer nie. Kom ons bou die brug wanneer ons daar kom.

Laat ons egter nou al seker maak dat ons geloof sterk genoeg is, maak nie saak hoe die winde in die toekoms gaan waai nie. Maar meer nog, kom ons sorg dat ons doen en late, waar ons ook al gaan, vir God verheerlik.

As ons in goeie omstandighede só optree dat God se Naam nie deur die modder gesleep word nie, is die kans goed dat as die omstandighede nie so goed is nie, ons só sal lewe dat God se Naam nie skade ly nie.

Maar as ons dit nie regkry in goeie omstandighede nie, sal dit maar sukkel in tye wat ons vervolg word of wanneer die dinge nie meer lekker loop nie. Dis nie altyd so maklik om God se lig te weerkaats nie.

Ons word maklik kwaad en wanneer ons nie ons sin kry nie, gooi ons ons speelgoed rond. Wanneer ons seerkry of onregverdig behandel word, staan ons op ons punte. Dan wil ons gryp en ons sê, sê.

Kom ons oefen nou reeds en maak seker dat ons in alle omstandighede God se lig uitstraal en nie toelaat dat ons optrede ’n streep daardeur trek nie.

Teks
1 Petrus 2:18-21

Om oor na te dink
Waar verloor jy nog die pad?
Is dit soms vir jou moeilik om altyd reg te lewe?
Hoe kan jy dit verander?

Gebed
Vader, help my om só te leef dat ek U nooit in die skande steek nie. Help my om nederig te bly en onbillike optrede te hanteer soos wat U van my verwag. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek