Slegs Jesus in die middel
Wat is bekommernis? Wanneer begin ons stres? Wanneer ons nie meer in beheer is nie. Wanneer dinge buite beheer raak.
As ek genoeg geld in die bank het, stres ek dan? Nee, want ek is in beheer van my geldsake.
Maar as ek onseker is of daar genoeg geld teen die einde van die maand in die bediening se rekening gaan land om al die uitgawes te dek, rol ek rond.
As die dokter daar in die spreekkamer die nuus vertel, op ’n manier die vervaldatum sticker op ons lyf kom plak, slaan ons in koue sweet uit.
Vrae pop op. Wat van die? Wat van daai? Jy sien, ons is dan buite beheer. Ons kan nie die roes wat hier binne aan die vreet is, beheer nie. Ons weet nie of die dokter ons ongesteldhede met sy salfies sal kan beheer nie en dit veroosaak spanning vir ons en ons families.
Wanneer die wiele van ons huwelik na al die jare se probeer afkom, raak selfs dit buite beheer en …
Dan worry ons. Dan trek dit baie amps. Ons fokus net op die uitdaging in die pad. Ons slaap sleg. Ons voel sleg en baie keer moet die mense langs ons die pak vat vir ons wat in tamatiestraat is.
Eintlik wil ek sê: welkom by die lewe, want dis presies wat in die lewe aangaan. Die lewe is gesaai met uitdagings. Sonder uitnodiging kom lê die uitdagings in ons pad. Sommerso ongevraag.
Die probleem kom in waar ons die deur van ons hart oopstoot vir die uitdaging om sy lêplek te kom maak. Nou is dit ons verantwoordelikheid om dit op ons eie te hanteer en dis hier waar die stres oplaai.
Want ons kan dit nie op ons eie hanteer nie. Dis juis hier waar ons buite beheer raak en nie ’n groot genoeg vurkhyser het om die uitdagings uit die pad te sleep nie. So wat nou?
Ons moenie toelaat dat die bekommernisse in ons hart kom blyplek maak nie. Dis nie hulle plek nie. Daar is eintlik net vir een plek: 15Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een plek is, naamlik vir Christus, die Here.
Hierdie klink nou amper soos ’n geestelike sousie wat ons oor ’n probleem wil smeer of ’n pleister wat te klein is, probeer plak oor ’n groot seer. Maar dit is nie so nie. Jesus moet die fokuspunt wees en bly. Enige iets of iemand anders gaan net die dinge binne ons opfoeter.
Jy sien, wanneer Jesus alleen in ons harte woon, help Hy ons om die uitdagings wat in ons pad is, te hanteer. Nee, Hy tel hulle nie op en skuif hulle uit die pad uit nie. Hy help ons met Sy Heilige Gees om hulle in die regte perspektief te sien.
God is baie kragtiger as enige probleem in ons pad. Jesus en die Heilige Gees help ons om die uitdagings met ’n nuwe bril te sien en saam planne te maak om dit te takel. So nee, as Jesus die enigste een in jou hart is, gaan jou probleme nie soos mis voor die son verdwyn nie. Hy gaan jou wel help, wysheid en krag gee om daaraan te werk en te help om dit aan te spreek.
Probeer dit!
Teks
1 Petrus 3:12-17
Om oor na te dink
Hoe lyk die uitdagings in die pad?
Is Jesus alleen in jou hart?
Hoe kan jy die ander in jou hart wegjaag?
Gebed
Vader, dankie vir hierdie boodskap, want ek sukkel met die uitdagings. Ek laat baie ander toe in my hart. Help my om hulle uit te kry en Jesus alleen daar te laat woon. Amen.