God se Woord in vandag se woorde

Smyt dit uit


Daar is baie seer in die wêreld. Gedurig val mense vas in een of ander storm en dan het hulle bemoediging nodig. Hulle wil ’n hand op die skouer hê of ’n flitsie in die donker.  

Wanneer ons preke preek waar ons God se beloftes uitlig, staan die mense tou om die flitsie in hulle storms te laat skyn. Mense deel die preke met mekaar en die kykersgetalle skiet deur die dak. 

Ander preke kry nie soveel airtime nie. Wanneer die tema oor sonde gaan, kyk mense weg en stuur dit nie aan nie. Ek kan dit ook aan die kykersgetalle sien.  

Dis seker maar menslik dat ons nie op die vingers getik wil word nie. Ek vermoed ons is skaam oor die dinge wat ons verkeerd doen. Daarom wil ons nie hê dat die flitsies uitgehaal moet word nie. 

Tog kan ons nie hieroor stilbly nie. Ons kan nie toelaat dat die kykersgetalle bepaal wat die boodskap van die dag moet wees nie. Ons moet eerder luister wat God se Woord sê en waar dit die ligte wil aan- of afskakel. 

Die boodskap is eenvoudig en reguit: 1My liewe kinders, daar is ’n goeie rede waarom ek hierdie dinge aan julle skryf. Julle moet nooit iets doen waarvan God nie hou nie. 

Die 1983-vertaling sê dit eenvoudig en reguit: Moenie sondig nie! 

Snaaks genoeg, ons weet dadelik wanneer ons buite die wil van God lewe. Wanneer ons dinge doen wat verkeerd is, gaan daar rooi ligte om ons af en ons weet dis nie reg nie. Ek vermoed dis ons gewete wat dan hand opsteek.  

Ons moet gehoor gee hieraan, want behalwe dat ons verkeerde dade God se hart seermaak, kan sonde ons lewens verwoes. Soms verwoes dit selfs ander mense se lewens en skakel ons dade die ligte in ander se wêrelde af. 

Ek deel ’n storie waar ek ’n paar vrae vra: Ek wonder hoekom spring mense oor die grense van die huwelik? Het dit te saai geword en die opwinding net te lekker aan die anderkant van die draad? 

Andy (skuilnaam) skryf terug: 

Ek was een van daardie mense wat oor die draad was. As ek net geweet het wat ek vandag weet, het dit nie eers deur my gedagte gegaan nie.  

Ek is nou vier jaar geskei en as ek dit kon verander, sou ek. Ek hoop en glo die Here sal my vergewe vir dit wat ek gedoen het. Dit het my uitmekaar geskeur en dit voel of dit nie regkom nie. Ek is so spyt daaroor … 

Hoe kom ’n mens weer op die been? Ek het nooit weer na ‘n ander vrou gekyk nie. Maar die alleen is verskriklik erg en ek sukkel om met die Here te praat. Dit is baie erg om nie met die Here te kan praat nie. Ek kan niks vir Hom sê nie …  

Laat ons gehoor gee aan die opdrag en al ons dade van die donker uitsmyt. Laat ons binne die wil van God lewe. Dit sal Sy hart verbly en ons beskerm teen ons eie verwoesting.  

Teks
1 Johannes 2:1-2 

Om oor na te dink
Waar is die ligte af in jou lewe?
Hoe kan jy die verkeerde dade stop?
Dalk iemand vertel om te help? 

Gebed
Vader, ek wil nie sondig nie. Ek wil alles in die lig doen. In U lig doen. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek