God se Woord in vandag se woorde

Sodat ander vir God kan ervaar


Lewende stene bring lewe in ’n dooie wêreld. Lewende stene doen dinge wat vir God aanneemlik is. Lewende stene se lewe maak ’n verskil in die wêreld en dit is vir God verskriklik lekker om dit te sien.

Hoe lekker is dit nie om vir ander mense iets te doen nie? Hoe lekker is dit nie wanneer ons ’n plan maak om mense in nood te help en ons kry dit reg nie? Om ander mense se nood te verlig, bring ’n glimlag op ’n mens se gesig en vir seker ook op God s’n.

Dit is God se wese. Dit is deel van God se bestaan om ander se nood te verlig. Ek bedoel, neem nou net die effek van Jesus se kruisdood. Met hierdie een daad het God die mensdom kom verlos van sy nood. Nou hoef hulle nie meer self pa te staan vir die straf wat hulle sondes bymekaargemaak het nie.

Tog stop God se betrokkenheid by die wêreld nie daar nie. God se hulp met die nood van die mense het nie daar opgehou nie. Nee, God is ’n betrokke God en wil vandag steeds die mense hier op aarde help.

Hiervoor gebruik Hy die stene wat langs Sy Seun in Sy nuwe kerk ingebou is. Wanneer ons, wat kinders van God is, ons lewe “ten toon stel,” sien ander dit, ervaar ander dit aan hulle lywe, word hulle nood verlig en ervaar hulle God se goedheid.

5… So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel.

Lolly vertel my van haar seun.

Ek wil jou ’n storie vertel van my seun wat in die laerskool hoofseun was. ’n Twaalfjarige het sy eie lewe geneem en dit was so traumaties om te sien hoe die klein twaalfjariges hulle vriendjie moes begrawe. Ek het so oor die seuns gekyk en gesien hoe die trane uit my seun se oë loop.

En ek was trots op my seun, want hy was as leier altyd daar vir die ander kinders. Die hoof het my eendag vertel hoekom my seun die hoofseun was. Hy het gesê dat my seun die vermoë gehad het om almal op die speelgrond kalm te hou en hy het gou al die bakleiery uitgesorteer.

Lolly sluit dan af:

God speel ’n groot rol in my seun as hoofseun se lewe en dit is seën om te weet dat God groter is as enige vrees wat ons kan pak. En al gebeur slegte dinge met ons, sal God ons lei en saam met ons die stukke optel.

Dis wonderlik dat ’n seun sy rol as lewende steen so goed kan vervul. Daar op die speelgrond bring hy die vrede. Hy bring troos langs ’n oop graf.

En op ’n manier ervaar die twaalfjariges wat pyn oor hulle maatjie, God se vertroostende hand oor hulle.

Waar kan jy vandag die nood verlig? Waar kan jy die vrede bring? Waar kan jy iets gaan doen, sodat ander God self in hulle nood ervaar?

Teks
1 Petrus 2:1-8

Om oor na te dink
Waar kan jy vandag die nood verlig?
Waar kan jy die vrede bring?
Waar kan jy iets gaan doen, sodat ander God self in hulle nood ervaar?

Gebed
Vader, ek wil ’n lewende lewende steen wees. Ek wil ’n verskil maak, sodat ander vir U kan ervaar. Heilige Gees, maak my oë oop om die plekke raak te sien waar U wil hê ek moet U hande en voete wees. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek