God se Woord in vandag se woorde

Sonder maskers


Ek moet ’n gebed doen op ’n vriend se vyftigste verjaarsdag. Ek weet daar gaan mense wees wat anders glo en selfs die wat glad nie glo nie. Wat bid ’n mens dan nou?

Ons staan reg bo in die berge by ’n baie grand restourant en ek kan nie anders as om God te loof vir Sy ongelooflike mooi skepping nie. Toe draai ek na my vriend toe en vra ons Vader om hom te help met net een ding. Nee, nie te help nie, maar hom te oorstroom met wysheid.

Salomo was so wys toe hy enige iets kon kies. Al die geld in die wêreld, al die aansien, toe kies hy wysheid. Met wysheid bly ’n mens op die regte pad. Met wysheid help jy ander om op die regte plek uit te kom.

Wysheid is egter nie iets wat jy maklik bekom nie. Dit vat ’n leeftyd om dit te bemeester. Soos ’n mens die lewe leef en jou toon stamp, soos wat jy ondervinding opdoen, leer ’n mens wat ware wysheid is.

Jy leer om dinge sonder bybedoelings te doen. Jy leer om altyd vrede te saai en hoflik soos ’n heer op te tree. Wysheid leer jou om bedag op ander mense te wees en saam met hulle te huil wanneer hul trane loop. Wysheid leer jou hoe om goeie vrugte te dra en nie kant te kies nie. Laastens is dit om opreg te lewe.

Die oorspronklike taal sê eintlik dat wysheid niks te maak het met skynheiligheid nie. Dit is onwys om te maak of jy heilig is. Die Engelse woord hiervoor is hypocrite, wat oorspronklik in die Griekse wêreld verwys het na ’n akteur.

In daardie jare het akteurs maskers gedra om die mense te help om nie die akteur raak te sien nie, maar eerder die karakter wat die akteur speel. Wysheid dra nie maskers nie. Wysheid wys die ware Jakob. Altyd.

Die meeste van ons is in die opsig die meeste van die tyd wys, maar wanneer daar iets gebeur, wanneer ons in die moeilikheid is, kan ons gou ’n leuentjie vertel om ons uit die verknorsing te help.

Dis onwys, want ons steek die waarheid agter ’n masker weg. Ons skets ’n ander prentjie as die ware prentjie en die lewe het ’n geneigdheid om gou die onsuiwerhede uit te dop.

Kom ons maak ’n punt daarvan om ten alle tye net die waarheid te wys. Al is die prentjie dalk krom en skeef. Al lyk dit nie soos ons dink die mense sal wil sien nie, kom ons wys altyd die ware kleure. Kom ons wees in alles wat ons doen en sê opreg en los die maskers vir die akteurs.

17Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg.

Teks
Jakobus 3:13-18

Om oor na te dink
Waar het jy al maskers gedra?
Hoe moet jy maak om nie maskers te dra nie?
Hoe kan jy ander help om nie maskers op te sit nie?

Gebed
Vader, ek wil graag in alles wat ek doen, wys wees. Help my om elkeen van hierdie eienskappe deel te maak van my lewe. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek