God se Woord in vandag se woorde

Sondig of nie


Ek lees een teksvers per dag. Dis my kapasiteit. Dan skryf ek daaroor, sodat dit hier in my brein kan vassteek. As ek nie daaroor sit en top en skryf nie, gaan dit net by die een oor in en woerts by die ander een uit. 

My oog het met die vorige teks se lees nou se teks gevang en ek moet bieg, toe ek kom stil raak was ek nie lus nie, want ek het geweet wat lê voor en dit gryp my so effe voor die bors. Ek wonder of jy ook hiermee kan identifiseer? 

9Niemand wat deur God sy kind gemaak is, maak nog ’n gewoonte van die sonde nie. Hoe kan hy? God het so iemand mos lewendig gemaak. Ja, uit God self is hy gebore, want God is kragtig en sterk. Daarom mag die gedagte om iets te doen wat God ongelukkig maak, nie eens by ’n kind van God opkom nie. 

Ek laat sak my kop en steek my hand stadig op en sê: “Skuldig!” Erg skuldig, want sien, ek dink nie net eers daaraan en wonder wat aan die anderkant van die grens is nie, ek val te gereeld daaroor.  

Ek wonder dan: Hoekom? Is ek regtig ’n kind van God? Het God my uit die dode kom haal en lewendig gemaak? Is ek weer gebore? Het ek dan nou die ou lewe agtergelaat? 

My vrae hou nie hier op nie, want as ek die 1983-vertaling lees, dan pop daar nog meer vrae oor my Christenskap op: Iemand wat ‘n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly. 

Is ek regtig ’n kind van God? Het ek regtig die Heilige Gees ontvang? 

Hierdie vers kan op twee maniere geïnterpreteer word: die wat nie gewoonlik of kenmerkende sondige gedrag ten toon stel nie of wat absoluut perfek is en nooit enige sonde begaan nie. 

Ons weet dat daar niemand bestaan wat perfek is en geen sonde doen nie, al wil sommige maak of hulle so is. Ek dink sommer nou aan Jesus wat self gesê het dat die een wat geen sonde het nie, die eerste klip moet optel om te gooi. 

Ons moet weet dat ons in sonde ontvang en gebore is. Die dag toe ons vir Jesus aangeneem het as ons Verlosser, is ons sondige natuur verruil vir Jesus se heiligheid. Tog kan ons almal getuig dat ons nie ewe skielik in ‘n engel verander het nie. 

Daar het wel ’n verandering gekom. Ons wil om sonde te doen het verander na wil nie meer nie. Ons begin al hoe minder sonde doen en ons gedrag wys dit. 

Sonde is nou nie meer die motiveerder vir ons doen en late nie. Dis nie meer ons hoofbesigheid nie. Dit bepaal nie meer die rigting waarin ons loop nie en ons leef en speel nie meer in die modder nie. 

Ons is wel nie sonder sonde nie, want ons glip en gly nog daar waar ons tong wankel en ons voete soms verkeerd loop. Tog is ons nie meer ’n slaaf van sonde nie. 

Laat ons dan streef om al hoe minder te sondig. Laat ons die wysheid wat God ons gee, gebruik om te weet wanneer ons verkeerd wil doen. Laat ons dan God se krag gebruik om weg te draai en al hoe minder te sondig.  

Teks
1 Johannes 3:4-10 

Om oor na te dink
Sondig jy al minder?
Waar lê jou achilleshiel met sonde se doen?
Wat moet jy anders doen? 

Gebed
Jesus, ek weet dat ek nog hier en daar glip en gly. Gee my die wysheid om te weet as daar ’n uitdaging in my pad is en die krag om dit te systap. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek