Staan sterk!
Hier in die Kaap is dit Winter. Alhoewel dit nie so baie reën soos altyd nie, kom hier nog nou en dan ’n koue front verby. Die woeste winde ruk die bome rond en ek weet as dit begin lig word, gaan dit buite erg deurmekaar lyk.
Dis byna ’n prentjie van ons lewe. Soms waai die woeste winde so erg dat ’n mens nie lekker op jou voete kan bly nie. Dan is dit beter om êrens op ’n veilige plek te gaan skuil. Wanneer die winde jou daar op die oopte gaan beetkry, is die kans baie goed dat jy tweede beste daarvan gaan afkom.
Wanneer ons in gevaar is, skop ons instink in. Dan stop die drang na oorlewing in en begin jy soek na ‘n plek van veiligheid. ’n Plek wat beskutting gee teen die groot gevare.
Watter winde is daar in jou lewe wat jou laat voel of dit jou gaan onderkry? Watter storms woed oor jou kop en maak jou bang? Het jy beheer verloor? Is jou geloof dalk as gevolg hiervan aan die uittorring?
Dan moet julle,15 liewe broers en susters, sterk staan! Hou vas aan alles wat ek julle geleer het toe ek daar by julle was en aan dit wat ek in my briewe skryf.
In die tye wanneer ons so swaar trek dat ons begin wegbeur van God, moet ons juis teruggaan na Hom. Dan moet ons juis na die Bybel gaan om weer die beloftes te hoor. Dan moet ons juis al die waarhede weer deel maak van ons hele wese, want dit is juis hier waar ons krag kry om weer te probeer.
In God se Woord kry ons wysheid om te weet wat die regte keuses is om in die woeste stryd te maak. Hier kry ons leiding om te weet watter tree om volgende te gee. Hier word ons geloof versterk en word die onsekerheid verdryf.
Met alles in jou moet jy vashou aan die woorde van God. Daarsonder kom die wiele van die lewe af. Ek sien ’n ou wat woes deur die winde van die lewe heen en weer geklap is. Ek vermoed dat hy nie kon of wou teruggaan na die Woord van God nie. Vandag is hy op ’n plek waar hy met vuiste in die lug vir God verwerp en die wat in Hom glo, uitlag.
Ek wonder of jy diep binne jou werklik gelukkig is?
’n Lewe sonder wysheid laat mense in die donker rondploeter en struikel. Hulle word pimpel en pers geslaan. Dit is so onnodig, want die wysheid wat oorgenoeg is om op die pad te bly, is binne almal se bereik.
Petie vertel dat ons elkeen ’n destiny in die lewe het. Elkeen van ons is geroep om in die voetspore van Jesus te stap. Hy skryf:
Daar is sekere destinies op ons weg wat vervul moet word. Jesus verwag van ons om Sy werk voort te sit. Hier ‘n woordjie van bemoediging, daar ‘n skouer om op te huil. Hier net ‘n drukkie vir iemand wie eensaam is, daar weer om vir iemand iets te gee wat hy/sy graag wil hê, maar nie kan bekostig nie. Daarom is my gebed dat God my geestesoë sal oopmaak sodat ek elke roeping sal eien en dat God my die krag en genade en wysheid en insig sal gee om elke roeping te vervul.
Om die woeste winde te oorleef, het ons wysheid nodig. Om ons roeping uit te leef, het ons wysheid nodig. Net om die lewe te leef, het ons wysheid nodig. Daarom moet ons ons ingrawe in God se Woord, want dis hier waar ons antwoorde, vreugde en vrede kan vind.
Teks
Dink bietjie hieroor
Watter winde is daar in jou lewe wat vir jou voel asof dit jou gaan onderkry?
Waar kry jy wysheid en leiding?
Waarin glo jy?
Gebed
Vader, ons weet waar ons hulp vandaan kom. Ons weet waaraan ons moet vashou, maar ai! So maklik dryf ons weg en soek vashouplek aan plekke wat ons nie kan vashou as die storms om ons woed nie. Ek wil terugkeer. Ek wil U woorde as my anker gebruik. Amen.