God se Woord in vandag se woorde

Stap agter die Een aan wat weet


Ek het nie so ’n goeie track record met die aanstel van mense nie. Die besigheid waar ek lank gelede betrokke was, het in ’n stadium baie gegroei en om die groei te kon hanteer moes ons gereeld nuwe mense aanstel. Ek ken mense, maar om een of ander rede was my aanstellings nie altyd so in die kol nie.  

Tog onthou ek van een vrou. ’n Ma van twee klein kindertjies wat kort in die Kaap was. Sy was dringend op soek na werk. Ek het haar redelik gedruk in die onderhoud, want ek wou sien wat sy onder druk doen.  

Sy het goed gedoen. Sy was emosioneel sterk. Sy het baie goeie werksondervinding gehad. Al haar referente het baie goed van haar gepraat en ek het gedink sy was perfek vir die pos en stel haar toe aan. 

En ja, sy was soos ’n vars briesie wat deur die besigheid gewaai het. Sy het haar werk perfek gedoen en sommer vir ander gehelp om hulle werk ook beter te doen. Niks was te veel vir haar om te doen nie en al het dit soms baie druk gegaan, was daar altyd ’n glimlag op haar gesig.  

Ek het gewonder of sy dan perfek was, totdat sy eendag die bal laat val. Ai, dit was vir haar so erg en sy was in trane. Ek het mooi met haar gaan sit en haar gehelp om te verstaan dat almal soms ’n fout maak. Ons is mense. Dit gebeur. 

Daar is wel een persoon wat regtig geen foute het nie. Selfs al gaan dit druk en word Sy lewe bedreig, kies Hy nie die kortpad nie. Hy hou net die waarheid voor en as dit nie vir die mense aanvaarbaar is nie, moet hulle ’n brug bou. 

Jesus het nie sonde gedoen nie. Jesus het nie toegelaat dat Hy en Sy begeertes God se plan in die wiele ry nie. Jesus het geweet dat daar ’n perfekte lam geslag moes word om van die straf vir die mensdom se sondes ontslae te raak.  

Geen vlek mag op die lam wees nie. Geen sonde. Geen onvolmaaktheid. Geen glip van die tong of ’n humeurtjie wat erns glip het. Selfs toe Hy honger was en die duiwel Hom in die woestyn versoek het, kon Hy nie omgestoot word nie. 

22… Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo. 

Ek het baie meer foute as die vrou wat ek aangestel het. Ek voel nie so goed daaroor nie. Wanneer ek myself dan nog verder vergelyk met Jesus wat geen foute gehad het nie, wil ek sommer in ’n gat klim. 

Maar dis sulke tye wanneer ons eintlik juis iets moet begin doen. Soos die kinders sê: Daar’s ’n special op sement by Builders. Gaan bou ’n brug. En ’n mens begin ’n brug te bou deur eerstens te besef dat ons soms foute gaan maak. 

Dis menslik, maar dan moet ons verder aan die brug bou en dit nie half laat staan soos die brûe in Kaapstad se voorstad nie. Ons moet begin werk aan die foute in ons en ook weet wanneer om na Jesus te luister. Sy woorde kan jy vertrou. Ons moet maak soos Hy maak. Dan sal ons al hoe minder foute maak en uitkom by die prentjie wat God van ons het. Selfs wanneer die lewe druk, kan ons aanhou om te doen soos wat God wil hê ons moet doen.   

Teks
1 Petrus 2:22-25 

Om oor na te dink
Waar loop jy nie agter Jesus aan nie?
Wat moet jy doen om ontslae te raak van verkeerde dinge?
Waar moet jou woorde meer in lyn kom met Jesus s’n? 

Gebed
Jesus, ek wil so graag agter U aanstap en doen soos U. Net jammer ek glip en gly so elke nou en dan. Help my om meer aan U vas te hou. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek