Stap die reguit pad
Mense hou kinders van God baie fyn dop. Lyk dit net of hulle ’n millimeter skuins trap, begin hulle al hulle vinger lig om dit uit te wys. Dis maar hoe die mens is. Soms gesels Christene land en sand oor ander Christene se foute en waar hulle die strik nie kon mis trap nie.
Hoekom is dit tog so lekker om oor ander mense se verkeerde dade te praat?
Daarom is dit baie belangrik dat ons as Christene baie versigtig sal wees wanneer ons die lewe leef. Paulus het hierdie feit beslis verstaan en daarom uit sy pad gegaan om seker te maak dat mense nie hulle vingers na hom wys en sê: “Kyk nou weer wat doen die sogenaamde Christene” nie. “Hulle doen dit alles maar net om geld te maak. Dit is alles ’n skyn”.
Paulus het regtig baie gedoen vir die verspreiding van die Evangelie en hy het ’n groot rol gespeel in die uitbreiding van die Koninkryk van God. As daar nou een ou was wat dit verdien het dat die kerk, maak nie saak hoe jonk sy was nie, sy rekening moes optel, dan was dit Paulus.
’n Mens kan mos nie van so ’n groot man van God verwag dat hy sy eie vliegtuigkaartjie en hotel kostes moes betaal nie! Paulus het egter geweet dat die mense hom fyn dophou en hy het ook geweet dat as hy een sent van die kerk gaan neem om sy kostes te dek, was daar ’n kans dat daar ’n klomp stof opgeskop kan word.
Dit sou die uitdra van die Woord belemmer en dalk ’n klomp mense verhinder om na die Evangelie wat verkondig word, te luister. Daarom sorg Paulus dat daar nêrens ’n kans kan bestaan vir iemand om vinger te wys nie. Hy verdien tot sy eie geld deur tussen die preke deur te werk en tente te maak.
Niemand kan sê Paulus het op die kerk se nek gelê en was net in die bedryf vir geld nie. 9Julle onthou seker nog hoe hard ek daar by julle geswoeg en gesweet het. Tussen al my preke deur het ek my eie inkomste verdien. Ek het dit gedoen omdat ek nie ’n finansiële las op julle skouers wou laai terwyl ek die goeie nuus oor God aan julle bekendmaak nie.
So moet ons ook lewe. Mense moet nooit vinger kan wys nie. Wees die heeltyd sensitief vir hoe ander mense jou bedoelings kan interpreteer. Eintlik moet jy oorsensitief wees.
Moenie aanstoot gee nie. Tree só op dat die groter prentjie, die uitbreiding van God se Koninkryk, nie beskadig word nie.
Ná ’n partytjie by vriende, wat sê hulle vir mekaar oor jou getuienis as kind van God in die gewone wêreld? Verstaan hulle die prentjie van God se Koninkryk wat al hier op die aarde gekom het, nou beter?
Orals waar ons loop, is ons die prentjie van God se liefde. Wees sensitief dat ons nie dalk ’n ander deur ons manier van doen van stryk bring nie.
Teks
Om oor na te dink
Watter mense kyk na hoe jy jou lewe leef?
Is daar dalk iets in jou lewe wat jy anders sal moet doen?
Hoe gaan jy dit regkry?
Gebed
Vader, help ons om te alle tye suiwer en onberispelik op te tree sodat niemand ’n vinger na ons kan wys en dat ons op die manier die evangelie skade berokken nie. Amen.