God se Woord in vandag se woorde

Steek gereeld hand op


Wanneer die jaar draai, die ou ene op sy rug lê en die nuwe een op die horison aan die opkom is, is dit tyd dat ’n mens gedwing word om so bietjie na binne te kyk. Ons moet kyk waar ons is en hoe ons daar uitgekom het. Ons moet kyk wat is verkeerd en hoe kan ons weer regmaak.  

Ek vermoed dat die jaarwisseling ’n mens dwing tot introspeksie. Wanneer ’n mens weet waar jy staan, weet jy waarheen jy op pad is. Soms is daar ’n paar klein verstellinkies wat ’n mens moet aanbring. Soms is daar ’n paar grotes om te doen.  

Dit was die tweede dag van die nuwe jaar toe ek ’n noodoproep ontvang via die chat op ons webtuiste. Kom ons noem hom Franko. Hy skryf kort, maar die uitroep spreek boekdele: “Hi, ek is F, ek is ‘n sondaar en wil graag die Bybel leer deur dit te bestudeer. Kan julle my daarmee help, as dit moontlik is? Dankie!” 

Ek vermoed Franko het met die wisseling van die jaar op ’n klip gaan sit en bietjie gaan loer na sy lewe se prentjie en waar hy homself op daardie oomblik bevind. Ek vermoed die prentjie was nie so rooskleurig nie.  

Ek vermoed hy was skaam vir sommige van die prentjies. Ek vermoed dat hy verlore gevoel het en dat dit tyd was vir hand opsteek om hulp te vra. Hy weet waar om aan te klop: By God se Woord.  

Natuurlik hoef ons nie te wag vir die begin van die jaar om verstellings te maak nie. Enige tyd kan en moet ons na God se Woord gaan vir leiding. Hier hoor ons weer God se beloftes. Hier hoor ons weer wat ons moet maak en hoe ons hier in die wêreld moet loop en waar ons nie moet afdraai nie. 

Elke skrywer van die boeke van die Bybel gee vir ons ’n kierie om ons te help op die paaie van die lewe. Petrus sê hier aan die einde van sy eerste brief hoekom hy skryf:  

12… My doel met die brief is om julle moed in te praat deur julle weereens aan alles te herinner wat ons God vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Dit is ware genade. Gryp dit met albei hande vas en moet dit nooit los nie. 

Wanneer ons ons neuse in die Woord van God hou, kan die aanvalle maar kom. Die swaar tye kan maar kom klop aan ons voordeur, ons sal staande bly, want uit die Woord van God sal ons moed skep om aan te hou.  

Ons sal lees hoe bevoorreg ons is om al die hope en hope genade uit God se hand te ontvang. Ons sal weer onthou dat ons verlore was en dat Jesus in ons plek betaal het vir ons sondes.  

Wanneer ons besef ons het verkeerde afdraaie geneem en ons op verkeerde plekke bevind, moet ons ons hand opsteek vir hulp. Dan moet ons soos Franko terugkeer na die Waarheid waar ons hulp en leiding sal ontvang.  

Kom ons maak almal saam weer ’n commitment om elke dag by God se Woord uit te kom en daar leiding te ervaar. Mag ons erns maak om dit deel te maak van ons hele wese, sodat ons nie weer verkeerd hoor en verkeerd besluit en by die verkeerde plek opdaag nie.  

Teks
1 Petrus 5:12-14 

Om oor na te dink
Is daar ’n paar verstellings wat jy moet maak?
Hoe kan die Bybel help?
Hoe kan jy meer tyd met God se Woord deurbring? 

Gebed
Vader, dankie vir U Woord. Ek glo dat dit vir my my weg aandui. Help my om daarop te loop. In Jesus Naam. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek