Stryk die kreukel uit, of mis die bus
God het dit darem vir ons maklik gemaak om by Hom uit te kom. Hy het Sy enigste Seun gestuur om in ons plek te sterf vir die klomp sondes wat ons so maklik elke dag doen. Ons hoef nie self daarvoor te sterf nie.
Dit is net genade op genade.
Al wat ons moet doen, is om ons sondes te bely en in God te glo. Vir baie mense is dit onverstaanbaar en wil hulle ‘n plek in die hemel in werk. En dit is te verstane. In ons kultuur moet jy werk, hard werk, om êrens in die lewe te kom.
Met God se dinge werk dit egter anders. Jy kan jou plek nie in die hemel in werk nie. Jesus se sterwe aan die kruis het reeds die “werk” gedoen en ons kan saam op die brander ry.
Tog word werke nie uit die prentjie gehaal nie. Alhoewel werke ons nie in die hemel inkry nie, is dit tog die gevolg van ons dankbaarheid vir wat Jesus vir ons gedoen het. Baie keer ry mense so op die bootjie dat geen werke nodig is nie, dat niemand kan agterkom dat die ou in God glo nie. Dit is verkeerd.
Wanneer ons in God glo, wanneer ons besef wat Jesus vir ons gedoen het, wil ’n mens mos uit dankbaarheid ons lewe en ons dade in lyn kry. As ons lewe en veral ons werke, ook nie tot bekering kom nie, is daar êrens fout.
Wanneer ek my hart vir God gegee het, stoei ek elke dag om die ou manier van lewe nie meer te doen nie. Dan gaan luister ek hoe God se Woord sê ek moet lewe en gaan probeer ek my bes om die verkeerde dade uit my lewe te wurg.
As ek sukkel met kommunikasie, as ek te vinnig op my perdjie spring, as ek nie altyd keurige taal gebruik nie en maar laat loop as iemand in my pad kom staan, probeer ek ten minste om daaraan te werk en die kreukels in my lewe uit te stryk.
Ek maak soos die vers sê:
14Probeer julle bes om nie met ander mense te stry of te baklei nie. Leef so dat God trots kan wees op julle, want as iemand nie so leef nie, sal hy sowaar nie by die Here uitkom nie.
My dade moet in lyn kom met wat ek sê ek glo. My woorde kan nie diékant toe praat en my dade ánderkant toe nie. Jy sien, ons moet so maak, dat God trots is op ons manier van lewe hier op die aarde.
As ons dade nie in lyn is met wat ons glo nie, of as ons voortdurend oor dieselfde hekkie val, kan God mos nie meer in Sy skik wees met ons wat tot inkeer gekom het nie?
Hier is eintlik ’n baie ernstige waarskuwing. Maak mooi of staan die kans om die ewige lewe te mis. Hou aan om die heeltyd die verkeerde keuses te maak en die kans is daar dat jy die bus na die hemel gaan mis.
Sjoe!
Teks
Hebreërs 12:12-14
Om oor na te dink
Waar loop jou dade nie reg nie?
Waar kan jy die bus mis?
Waar moet jy anders?
Gebed
Vader, ek weet dat daar dinge is wat ek verkeerd doen. Daar is keuses wat ek voortdurend verkeerd maak. Ek wil dinge doen wat U trots maak op my. Help my tog. In Jesus se Naam, amen.