Te gewoond aan God se dinge
’n Mens se lewe kan so maklik in ’n roetine verval. Dinge raak so maklik gewoon. Ons raak gewoond aan die son wat elke oggend opkom, want dit gebeur nou al die afgelope miljoene jare. Ons raak gewoond aan elke dag opstaan en elke dag dieselfde goed doen sonder om te besef watter voorreg dit is. Ons raak gewoond aan ons eggenote wat maar elke dag met sy of haar maniertjies hier langs my wakker word.
Ek is seker daarvan dat die man en vrou wat ons tydens ’n vakansie langs die swembad by die Beacon Isle ontmoet het ook so gewoond was aan mekaar en gedink het hulle sal vanoggend ook langs mekaar wakker word. Tog het dit nie so gebeur nie, want hy het gister teen ’n baie hoë spoed met sy motorfiets verby ’n vragmotor geskiet om ’n ou Tannie te mis en toe binne ’n aankomende vragmotor vasgejaag…
Ons raak so gewoond aan alles dat ons nie meer die grootheid, die andersheid, die groot stuk genade raaksien nie. Baie keer moet ons eers deur een of ander groot insident in ons lewens tot stilstand geruk word om weer die waarde van alles raak te sien.
Ons het dalk so gewoond geraak aan die Bybel dat ons die werklike waarde daarvan miskyk. Die Bybel is die Lewende Woord van God. Dit is nie maar net ’n klomp letters wat honderde jare gelede agter mekaar staangemaak is en nie meer ’n impak het nie.
Nee, saam met die werking van die Heilige Gees is die Bybel nog dinamies, het dit krag en kan dit ’n verandering in ’n mens se lewe bring. Die Bybel is die woorde van God. Dit is nie maar net gewone mense se idee van wat hulle dink God sou gesê het nie. Nee, die Bybel is die Lewende God se lewende woorde wat ’n lewende invloed in Sy kinders se lewens kan hê. Ons moet dit net glo en die Woord van God sal met ons praat.
13… Julle het die lewende God se woord aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord van God.
Net so raak ons gewoond aan ’n lewe wat maar elke dag gebeur soos wat dit gister was, maar dinge kan ewe skielik verander. Want sien, die vers in Tessalonisense bring dit weer onder ons aandag dat die lewende God in ons aan die werk is. 13… Hy (God) self werk nou in julle almal wat glo.
Maak ’n punt daarvan om nie sommer gewoond te raak aan alles nie. Besef die grootheid van God en watter ongelooflike groot stuk genade dit is dat Hy nog elke dag na ons afbuk en Hom met ons bemoei. Sê gedurig vir jouself dat God met Sy Gees in jou woel. Ons moet daagliks afsprake maak om stil te word en seker te maak ons luister.
Wanneer ons sensitief genoeg is vir die stem van die Heilige Gees, sal ons soveel makliker deur die lewe gaan. Ons sal soveel minder ons tone stamp en weet wat ons by die kruispaaie van die lewe moet maak, want met Sy Woord voor ons oë en Sy Gees in ons hart kan ons die lewe enige tyd met krag stormloop.
Teks
Om oor na te dink
Lewe jy ’n lewe wat getuig van ’n lewende God?
Laat jy toe dat die lewende God dinge doen in jou lewe?
Of het jy so gewoond geraak om die lewe op jou manier te leef dat jy vergeet het dat daar ’n lewende God in jou aan die werk is?
Gebed
Vader, ek het U woorde so nodig. Op my eie sukkel ek om een tree agter die volgende te sit. Help my om stil te raak vir die leiding van die Heilige Gees. Help my om U Woord my rigsnoer te maak. Amen.