God se Woord in vandag se woorde

Tenke vol genade, omgee en vrede


Wanneer die Bybelskrywers ’n brief begin en afsluit, doen hulle dit met ’n seëngroet. Dis amper soos wanneer jy vir ’n vriend sê: “Mag dit goed gaan met jou dié week!” 

Maar die Bybelse seëngroet is veel meer. Dis nie net ’n gewone groet nie, maar ’n seën. Dis ’n herinnering aan God se guns en liefde vir ons. 

Wanneer iemand wat swaar kry so ’n seëngroet hoor, word hulle bemoedig. Hulle hoor dat God getrou is, en dit gee weer hoop en krag. Ons word daaraan herinner dat ons deel is van ’n groter familie, en dat ons nie alleen deur die moeilikheid hoef te sleep nie. 

God, Jesus en die Heilige Gees gee vir ons só baie. Die genade-, omgee- en vredetenke is vol, en ons kan enige tyd daaruit gaan tap. Dié tenke sal nooit leegloop nie en is te alle tye beskikbaar vir ons as kinders van God. 

Genade is God se onverdiende guns en liefde vir ons. Hoor jy dit? Onverdiende guns? Ons verdien niks nie, en tog kan God Homself nie keer nie. Ons word uit genade gered. Dis God se liefdestenk wat oorloop vir ons mense. 

God het soveel medelye met ons. Hy is ons Vader en gee regtig om vir Sy kinders. Sy hart bloei vir ons. God hanteer ons sag en liefdevol, en dit is juis hierdie omgee wat vertroosting en herstel bring. 

In die seëngroet word ook vrede uitgespreek. Hierdie vrede is nie maar net die afwesigheid van konflik nie, maar ’n innerlike rus en harmonie met God. Jy sien, ware vrede kom net van God af. Dit gee vir ons sekerheid en stabiliteit. En het ons dit nie juis so nodig in vandag se deurmekaar wêreld nie? 

Ek wil graag hierdie seën oor jou uitspreek: 3Die genade, barmhartigheid en vrede wat van God die Vader kom en van Jesus Christus, die Seun van die Vader, sal by ons wees wat in die waarheid en die liefde is.  

Weet dat die genade-, omgee- en vredetenke altyd vol is. Dit is altyd vir ons beskikbaar. Wanneer dit rof gaan en die stofwolk van onvrede om jou dreig, maak dan tyd om by God uit te kom, sodat jy uit Sy tenk jou eie tenk kan vol maak. 

Daar is egter ook ’n stertjie: wanneer ons tenke volgemaak is, kan ons nie anders as om in God se waarheid te lewe nie. Dit is ’n onvermydelike gevolg wanneer God ons vol maak. 

Ons moet eers God se waarheid ken. Ons moet weet wat dit is, en dan daarin leef. Ons manier van deur die lewe beweeg, moet binne die raamwerk van God se waarheid wees. Ons moet toelaat dat God se waarheid ons stuur. 

En wat is die gevolg? Ons moet die liefde gaan uitleef. Wanneer ons tenke gevul word met genade, omgee en vrede, wanneer God, Jesus en die Heilige Gees ons oorlaai met onverdiende liefde, dan word ons outomaties aangevuur om daardie liefde te gaan uitleef in die wêreld. 

Mag jy ‘n tydjie maak om by God jou tenke te laat vol maak. Mag jy gevul word met Jesus se genade, omgee en liefde, en mag die Heilige Gees jou help om in waarheid te leef en ’n verskil te maak in ander se lewens. 

Teks
2 Johannes 1:1-3 

Om oor na te dink
Glo jy dat hierdie seën ook vir jou is?
Hoe kan jy dit ’n realiteit in jou lewe maak?
Teenoor wie moet jy die seën gaan uitleef? 

Gebed
Vader, Jesus en Heilige Gees, dankie dat U my tenke vol maak. Help my om dit ook in my wêreld te gaan uitleef. Amen. 

Sluit aan


Kies waar jy Kruispad wil ontvang. Jy kan enige tyd weer uitteken.

Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek